2026 WENNER VAN DIE HELGAARD STEYN-PRYS VIR MUSIEKKOMPOSISIE

Die komponis Neo Muyanga is met die Helgaard Steyn-prys vir musiekkomposisie vir 2026 bekroon vir sy werk After Tears: A Requiem for Choir and Orchestra – ’n werk wat oorspronklik in 2022 in opdrag van Opera North in Leeds geskep en in 2023 in die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika opgevoer is. Die prysgeld beloop R675 000.

Die komitee het After Tears as wenner gekies “vir die oorspronklikheid, emosionele diepte en kenmerkende Suid-Afrikaanse stem”, aldus prof. Alexander Johnson van die Universiteit van die Vrystaat, sameroeper van die beoordelaars.

Muyanga herverbeel Mozart se Requiem binne die konteks van ’n eietydse roubetoning en bied ’n vars perspektief op die verhouding tussen droefheid en viering, verlies en herinnering. Die werk vang iets diep menslik vas: die maniere waarop gemeenskappe verlies verwerk in die proses om iemand se lewe te vier en in die koestering van hoop. Die verbeeldingryke benadering, die kulturele resonansie en die kragtige musikale uitdrukking onderskei dit as ’n boeiende en onvergeetlike werk.”

Muyanga het gesê dit is ’n ontsaglike eer om die toekenning te ontvang en het die beoordelaarspaneel bedank. “Ek het dit gekomponeer in reaksie op die verlies van albei my susters, en die werk is ’n besinning oor hoe sentraal en belangrik ons kollektiewe rourituele tydens geleenthede van groot verlies is, en met omwentelinge in die samelewing in die algemeen. Alhoewel die werk as ’n requiem aangebied word, is dit nie uitsluitlik somber nie – die ontembare uitbundigheid van die Suid-Afrikaanse lewe klink op.” In sy verklaring het hy die toekenning opgedra aan “my eie geliefdes, Aisha en Tshuki Muyanga”.

Hy is gebore in Soweto in 1974 en sy komposisiestyl het grootliks ontwikkel uit die Suid-Afrikaanse koortradisie, wat ’n sterk grondslag bied. Hy put ook inspirasie uit sy navorsing oor verskeie musikale tradisies, ingesluit die vroeë Europese musiek, die Italiaanse madrigaal, die Ethiopiese Mezmur (Ortodokse kerkmusiek) en die Shaabi-musiek van Egipte (populêre musiek met volkstradisies as kerninvloed).

Muyanga beskik oor ’n internasionale baccalaureusdiploma van die United World College of the Adriatic (Italië) en ’n meestersgraad in die kunste van die Universiteit van Kaapstad (UCT). Hy is tans besig met sy PhD-graad by die Centre for Theatre, Dance and Performance Studies van UCT. Hy is die impresario (artistieke direkteur en kurator) van The Centre for The Less Good Idea – ’n ruimte gemik op die ontwikkeling van interdissiplinêre kunsprojekte in Maboneng, Johannesburg, wat deur die kunstenaars William Kentridge en Bronwyn Lace gestig is.

Volgens Muyanga bied After Tears ’n blik op Mozart se welbekende Requiem (K. 626), maar uit die perspektief van ’n hedendaagse Suid-Afrika waar begrafnisrituele beduidende veranderinge in styl en gebruike, veral ten opsigte van die jeug se benadering, ondergaan. “Ek het bewus geraak van hoe rituele rondom die rouproses en begrafnisgebruike in die stedelike landskap van Suid-Afrika besig is om te verander. Ek is geïnspireer om op groter skaal as die persoonlike belewenis daaroor te besin – oor hoe ’n volk of ’n land met ’n moeilike geskiedenis uitdrukking gee aan verlies en die onsekerheid oor ’n voortgesette bestaan binne die konteks van die rituele van samekoms, naasbestaan en samewerking.”

After Tears was deel van ’n tweeluik, aangebied deur Opera North en Phoenix Dance Theatre in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Jazzart Dance Theatre en Kaapstad Opera by die Leeds Grand Theatre. Yvette Huddleston het in The Yorkshire Post (2 Junie 2023) geskryf: “Westerse klassieke musiekelemente en die ritme van Afrika-slaginstrumente word elegant vermeng tot ’n briljante eindresultaat.”

Sy roemryke loopbaan van meer as 30 jaar sluit verskeie dissiplines in – van opera  tot installasiekuns. Hy het die oorspronklike teks en libretto geskryf, asook die musiek gekomponeer en georkestreer vir The Bacchae: An African Choral Ballet, wat vroeër vanjaar in Johannesburg en Kaapstad opgevoer en met groot lof ontvang is.

Vanjaar se beoordelaarspaneel het bestaan uit prof. Johnson, prof. Chris van Rhyn van die Noordwes-Universiteit en dr. Evans Netshivhambe van die Universiteit van Suid-Afrika.

Die hoog aangeskrewe Helgaard Steyn-prys word jaarliks toegeken en gee om die beurt erkenning aan uitnemendheid in vier dissiplines: musiekkomposisie, skilderkuns, letterkunde en beeldhoukuns. Werke wat in die vierjaartydperk van 2022 tot 2025 geskep en opgevoer is, kon ingeskryf word. Dit is die 10de keer dat die prys vir musiekkomposisie toegeken word.

Die vorige ontvangers van die Helgaard Steyn-prys vir musiekkomposisie is Roelof Temmingh (drie keer), Peter Klatzow (twee keer), Stefans Grové, Hans Huyssen, Adrian More en Christo Jankowitz.

Vorige Wenners
Vorige Wenners
Vorige Wenners
Vorige Wenners

Die Helgaard Steyn Pryse word jaarliks, in vierjaarlikse afwisseling, toegeken aan:

Die kunsskilder wat in die dan afgelope vier jaar die beste skilderwerk geskep het en op ‘n openbare uitstalling te koop aangebied het, of so ‘n skilderstuk in opdrag van ‘n private persoon of ‘n openbare liggaam geskep het, mits dit dan op so ‘n wyse in die openbaar geplaas word dat die algemene publiek redelike toegang daartoe het.

Die skrywer van die beste werk van enige aard in die Afrikaanse taal wat in die dan afgelope vier jaar in minstens driehonderd (300) druk-eksemplare op die ope mark te koop aangebied is.

Die beeldhouer wat in die dan afgelope vier jaar die beste beeldhouwerk geskep het en op ‘n openbare uitstalling te koop aangebied het, of so ‘n beeldhouwerk in opdrag van ‘n private persoon of ‘n openbare liggaam geskep het, mits dit dan op so ‘n wyse in die openbaar geplaas word dat die algemene publiek redelike toegang daartoe het.

Die komponis wat in die dan afgelope vier jaar die beste musiekwerk gekomponeer het en minstens tien volledige eksemplare daarvan op die ope mark te koop aangebied het.

Die Geskiedenis van die Helgaard Steyn Trust

Die Helgaard Steyn Trust het tot stand gekom uit die boedel van wyle dr. Johan Heinrich (Jan) Steyn. Hy is op 20 April 1902 gebore en was die oudste van ses kinders van Barendina Wilhelmina (Dina) Richter en Hillegard Mulder (Helgaard) Steyn. 

Dr. Steyn was ‘n oud-student van die voormalige Grey-Universiteitskollege (die huidige Universiteit van die Vrystaat). Hy het ‘n doktorsgraad in Ekonomie en Staatsleer (cum laude) aan die Universiteit van Heidelberg in Duitsland verwerf. 

In 1961 het Potchefstroom Universiteitskollege (die huidige Noordwes-Universiteit) ‘n eredoktorsgraad in die Ekonomiese Wetenskappe aan hom toegeken. 

Hy het, tot sy uittrede in 1966, agtien jaar lank as LV vir Potchefstroom gedien. Hy was ‘n vrygesel en is op 15 Desember 1983 in die ouderdom van 81 jaar in Bloemfontein oorlede.