DIE HELGAARD STEYN-PRYS 2026

Benoemings word ingewag vir die Helgaard Steyn-prys wat vanjaar in die kategorie musiekkomposisie toegeken word.

Die Helgaard Steyn-prys word jaarliks toegeken, om die beurt elke vier jaar in die kategorieë musiekkomposisie, skilderkuns, letterkunde en beeldhoukuns.Die waarde van die prys het oor die afgelope dekades aansienlik toegeneem (tot meer as R500 000), wat die Helgaard Steyn-prys een van die grootste kunspryse in die land maak.

Vorige ontvangers van die Helgaard Steyn-prys vir musiekkomposisie is Roelof Temmingh, Peter Klatzow, Stefans Grové, Hans Huyssen, Adrian More en Christo Jankowitz.

Die sluitingsdatum vir benoemings is 31 Julie 2026 – dit moet ingedien word by info@helgaardsteynpryse.co.za

Die drie beoordelaars vir die 2026-prys is prof. Alexander Johnson van die Universiteit van die Vrystaat, prof. Chris van Rhyn van die Noordwes-Universiteit en dr. Evans Netshivhambe van die Universiteit van Suid-Afrika.

Alle inskrywings moet ‘n beskrywing van die werk, motivering vir die werk, details van publieke uitvoerings van die werk, ‘n biografie van die komponis, die bladmusiek en/of enige opnames van die werk insluit. 

Rig enige vrae en nominasies aan info@helgaardsteynpryse.co.za

Die sperdatum vir nominasies is 31 Julie 2026.

Vereistes en voorwaardes vir benoeming van kandidate:

  • Enige Suid-Afrikaans gebore komponis kan vir die Helgaard Steyn-prys in aanmerking kom. Die prys sal toegeken word aan die genomineerde kontemporêre musiekkomposisie wat die beoordelaarspaneel as die mees verdienstelike beskou. Werke wat in die vier jaar van 2022 tot 2025 gekomponeer en uitgevoer is, kan ingeskryf word. ’n Opname van die werk moet beskikbaar wees en/of ’n uitvoering daarvan moes reeds in die publiek plaasgevind het.
  • Enige individu, organisasie of instansie in die musiekdissipline kan ’n komposisie aan die beoordelaarspaneel benoem deur ’n skriftelike motivering, ’n curriculum vitae van die komponis en besonderhede oor die werk, met inbegrip van ’n partituur (indien van toepassing) en ’n opname (of skakel na ’n aanlyn opname) voor te lê.

Voorleggingskriteria:

  • Komposisies moet minstens 10 minute lank wees.
  • Die musiek kan gekomponeer wees vir enige toonsetting, met inbegrip van solo-instrument of stem (met of sonder begeleiding), ensembles, orkeste, elektroniese musiek en elektro-akoestiese musiek. Werke vir verhoogproduksies soos opera, ballet en kontemporêre dans kan ook voorgelê word.
  • Akoestiese werke moet ’n partituur insluit.
  • Elektroniese en elektro-akoestiese werke moet volledige aanwysings vir die uitvoering daarvan insluit, asook ’n partituur indien van toepassing.
  • Partiture van elektroniese musiek moet die ontwerp van die komposisie in breë trekke saam met ’n lys van opgeneemde en elektronies geskepte klanke insluit.
  • Alle voorleggings moet ’n MP3-klankopname en/of ’n MP4-videoopname insluit.

Beoordelingskriteria:

  • Partiture, waar van toepassing, moet van ’n professionele standaard wees. Die notering en ander aanwysings vir uitvoering moet duidelik en foutloos versorg wees; so ook die uitleg.
  • Aanwysings vir uitvoering, asook skemas, moet duidelik en foutloos versorg wees.
  • Ofskoon geen styl vir die werke voorgeskryf word nie, moet dit ’n volwasse en vars komposisiestem verteenwoordig.
  • Werke moet ’n gevorderde tegniek vertoon; dit sluit gevorderde kennis van die instrumente/stemme en/of elektroniese hulpmiddels wat daarvoor nodig is, asook ’n deeglike struktuurontwerp, in. Dit beteken nie dat kompositoriese hulpbronne nie opsetlik onidiomaties gebruik mag word nie.
  • Die beoordelaars vertolk die gees van die Helgaard Steyn-Trust se voorwaardes as sou dit te kenne gee dat die meriete van die wenkomposisie ’n voorbeeld van artistieke uitnemendheid en vernuwende leierskap deur die komponis oor ’n langdurige tydperk moet insluit.
  • Geen korrespondensie oor die meriete van enige bepaalde toekenning sal namens die Helgaard Steyn-Trust onderneem word nadat die beoordelaars hul aanbeveling aan die trustees gemaak het en die naam van die ontvanger van die prys aangekondig is nie.
Vorige Wenners
Vorige Wenners
Vorige Wenners
Vorige Wenners

Die Helgaard Steyn Pryse word jaarliks, in vierjaarlikse afwisseling, toegeken aan:

Die kunsskilder wat in die dan afgelope vier jaar die beste skilderwerk geskep het en op ‘n openbare uitstalling te koop aangebied het, of so ‘n skilderstuk in opdrag van ‘n private persoon of ‘n openbare liggaam geskep het, mits dit dan op so ‘n wyse in die openbaar geplaas word dat die algemene publiek redelike toegang daartoe het.

Die skrywer van die beste werk van enige aard in die Afrikaanse taal wat in die dan afgelope vier jaar in minstens driehonderd (300) druk-eksemplare op die ope mark te koop aangebied is.

Die beeldhouer wat in die dan afgelope vier jaar die beste beeldhouwerk geskep het en op ‘n openbare uitstalling te koop aangebied het, of so ‘n beeldhouwerk in opdrag van ‘n private persoon of ‘n openbare liggaam geskep het, mits dit dan op so ‘n wyse in die openbaar geplaas word dat die algemene publiek redelike toegang daartoe het.

Die komponis wat in die dan afgelope vier jaar die beste musiekwerk gekomponeer het en minstens tien volledige eksemplare daarvan op die ope mark te koop aangebied het.

Die Geskiedenis van die Helgaard Steyn Trust

Die Helgaard Steyn Trust het tot stand gekom uit die boedel van wyle dr. Johan Heinrich (Jan) Steyn. Hy is op 20 April 1902 gebore en was die oudste van ses kinders van Barendina Wilhelmina (Dina) Richter en Hillegard Mulder (Helgaard) Steyn. 

Dr. Steyn was ‘n oud-student van die voormalige Grey-Universiteitskollege (die huidige Universiteit van die Vrystaat). Hy het ‘n doktorsgraad in Ekonomie en Staatsleer (cum laude) aan die Universiteit van Heidelberg in Duitsland verwerf. 

In 1961 het Potchefstroom Universiteitskollege (die huidige Noordwes-Universiteit) ‘n eredoktorsgraad in die Ekonomiese Wetenskappe aan hom toegeken. 

Hy het, tot sy uittrede in 1966, agtien jaar lank as LV vir Potchefstroom gedien. Hy was ‘n vrygesel en is op 15 Desember 1983 in die ouderdom van 81 jaar in Bloemfontein oorlede.