David Brown is in Johannesburg gebore en het Ontwerp en Fotografie aan die Michaelis Kunsskool in Kaapstad gestudeer. Hy het in 1975, deur Cecil Skotnes, met beeldhoukuns kennis gemaak. In 1985 het hy die Johannesburgse Eeufees-Beeldhoukompetisie gewen en in 1989 die AA Mutual Life Vita Art Now-toekenning verwerf. Die uitstalling Dogwatch (1993) en Dialogue at the Dogwatch (1995) sluit die grootste en mees ambisieuse beeldhouwerke tot in daardie stadium van sy loopbaan in.
Sy beeldhouwerke is in verskeie openbare versamelings opgeneem, met inbegrip van die Iziko SA Nasionale Kunsmuseum, Kaapstad, die Durbanse Kunsmuseum, Johannesburgse Kunsmuseum, Pretoriase Kunsmueum, Tatham Kunsmuseum, Pietermaritzburg, en in die vaste versamelings van die Universiteit Kaapstad, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg en die Universi- teit Stellenbosch.
Die skip van Voyage II is van corten-staal (geroes) met bronsfigure en versinnebeeld ‘n wêreld van geweld en patos waar die begrip “beskawing” oorboord gegooi is. Die figure in beheer is gemasker, besig met doellose aktiwiteite en het beheer oor al die chaos verloor.
David Brown is nie geneig om oor sy lewe of werk te teoretiseer nie. Hy is eerder in sy ateljee aan die werk en laat sy kragtige kombinasies van staal, geroeste corten-staal en brons vir hulleself praat. In dié opsig het Rose Korber (1989) opgemerk:
“And indeed, the image of the decaying ‘ship of fools’ on wheels, peopled by distorted and vicious puppet-like humanoids, is a metaphor for a brutal power-hungry world gone mad.”
“Die wêreld van die geroeste skip is gedoem tot ondergang (romp is oopgeskeur) en al die aktiwiteite van die bemanning (ook ‘n paar vrouefigure) is doelloos en selfs tragies in die futiliteit en pyn wat alles oorheers het.” (Miles 1989)
Oor die verskillende skepe in die reeks Voyages is ook opgemerk: “Die kunstenaar maak hiermee ‘n kragtige stelling oor die onmenslikheid van een mens teenoor die ander in ‘n wêreld waarin die mens ‘n hulpelose slagoffer van die kragte van onredelikheid geword het. Die skepe seil nie na enige nuwe bestemming nie, daar is geen hoop vir die mense-vrag nie, tog gaan hulle voort met die vernietiging, asof Brown hiermee die gruwel ‘verpak’ en dit na ons uithou vir betragting.” (De Villiers 1990)