In 2008 was dit die eerste keer in die geskiedenis van die Helgaard Steyn-prys vir Letterkunde dat twee skrywers die prys en prysgeld (van R150 000) gedeel het. Albei die betrokke werke was toe al herhaaldelik in Suid-Afrika bekroon en het sedert 2004 ook wye internasionale erkenning ontvang.
Hermann Buhr Giliomee is op 4 April 1938 op Sterkstroom in die Oos-Kaap gebore. Hy het op Porterville skoolgegaan en Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Daarna het hy by die Departement van Buitelandse Sake gewerk en lesings aan die Universiteit van Stellenbosch gegee. Van 1983 tot 1998 was hy professor in Politieke Studies aan die Universiteit van Kaapstad en van 1995 tot 1997 president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede. Hy is tans ’n buitengewone professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch.
Giliomee was in 1984 die medestigter van Die Suid-Afrikaan, ’n Afrikaanse meningstydskrif. In die tagtigerjare was hy ook ’n gereelde rubriekskrywer vir die Rand Daily Mail en die Cape Times. Hy was ’n genoot by Yale Universiteit in die VSA (in die sewentigerjare), Cambridge Universiteit (1982 – 1983) en die Woodrow Wilson Center for International Scholars in Washington D.C. (1992 – 1993).
Hy is getroud met Annette van Coller. Hulle het twee dogters en vyf kleinkinders.