JAAR
KATEGORIE

Bronwen Findlay

Findlay geniet die verrassing om goed saam te voeg wat nie gewoonlik saam gesien word nie. Haar versameling word in haar huis ten toon gestel. Dit het ’n dekoratiewe sowel as ’n funksionele doel en skep ’n leefwêreld wat baie na ’n driedimensionele skildery voel. Haar belangstelling in voorwerpe as bronmateriaal vir haar kunswerk lê egter nie in “direkte” vertolkings nie en illusionisme is nie haar doel nie. Vir haar gaan dit eerder om ’n verwerking van die werklikheid deur intens te kyk en te skilder. (Charlton 2007)

Findlay het vanaf 1978 aan die Universiteit van Natal, Pietermaritzburg gestudeer en in 1994 die graad M.A. (Visuele Kunste) (cum laude) verwerf. Sy is ook ‘n gekwalifiseerde opvoedkundige.

Haar werkloopbaan het in 1989 met kunsonderwys aan hoërskole in Durban begin. Vanaf 1993 was sy ‘n dosent aan die Universiteit van Durban-Westville, tot met die sluiting van die Kuns-, Drama- en Musiekdepartement in 2000. Daarna het ‘n tydperk van kontrakwerk aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van Johannesburg begin. Sy het, onder meer, visuele geletterdheid, skilderkuns, tekenwerk en ontwerp gedoseer. In 2014 is sy by die Departement Opvoedkunde van die Universiteit van die Witwatersrand en die Fakulteit Kuns en Drama, Universiteit van Johannesburg, aangestel.

Die afgelope vyf jaar is Findlay kunsfasiliteerder vir die Tsogang Basadi Vroueprojek, Ekupholeni, Natalspruit-hospitaal, Katlehong. Voorheen was sy ook fasiliteerder vir die Vroue en Geweld-projek van die CDP in Johannesburg.

 

Uitstallings

Browen Findlay se eerste van meer as vyftien solo-uitstallings tot op die hede was, in 1983, by die Natalse Kunsvereniging in Durban en, die jongste, Moving Flowers (skilderye), in 2012, in die Everard Read-galery, Rosebank, Johannesburg. Die uitstalling All about everything is in 2006 by die Standard Bank-galery, Johannesburg aangebied.

Die eerste groepuitstalling waaraan sy deelgeneem het, was die End Conscription Campaign in Durban (1986). In 1995 is haar werk in die reisende tentoonstelling, Panoramas of passage: Changing landscapes of South Africa, ingesluit, wat deur die Meridian International Center, Washington DC in samewerking met die Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg gereël is, asook in die “UTSAV”-uitstalling van kunstenaars van Indië en Suid-Afrika, in die Durbanse Kunsmuseum (1998). Die uitstalling was ter ere van Mahatma Gandhi en Nelson Mandela. 

Ander uitstallings

2000 The hour glass project. Drukgrafika, in samewerking met die Caversham Press, Natal. Die uitstalling is by die Standard Bank Nasionale Kunstefees, Grahamstad, in Atlanta, VSA en by die Tatham Kunsmuseum, Pietermaritzburg aangebied.

2001 & 2005 Break the silence Artists for Human Rights. HIV/Aids. Reklamebord en drukgrafikaprojek.

2002 Untold tales of magic: Abelumbi. Jill Addleson, kurator, Durbanse Kunsmuseum.

2004 Brett Kebble Art Awards-uitstalling, Kaapstad.

2007 Spier Kontemporêre uitstalling – 92 South African artists.

2010 Groepuitstalling van kunstenaars van KwaZulu-Natal, Bamboo, kurator Carol Lee.

Findlay is in 2002 vir die FNB Vita Awards-prys genomineer. Haar werk is by die Aardklop Nasionale Kunstefees, Potchefstroom uitgestal.

Verteenwoordig in die volgende versamelings

Durban Instituut van Tegnologie; Durbanse Kunsmuseum; Tatham Kunsmuseum, Pietermaritzburg; UNISA-versameling, Pretoria; Wits Art Galleries, Universiteit van die Witwatersrand; Departement Botanie, Universiteit Kaapstad; ABSA Bank-versameling; Engen-versameling; Empangeni Kuns- en Kultuurmuseum; Carnegie Kunsmuseum, Newcastle; Margate Kunsmuseum; KwaZulu-Natal Provinsiale Administrasie; Sasol Kunsversameling, Johannesburg; MTN-versame-ling, Johannesburg; Standard Bank, Johannesburg en Eerste Nasionale Bank.

Kommissies

1995 – 2000 Ontwerp omslae vir Alternation: Journal of the Centre for the Study of Southern African Literature and languages.

2000 Ontwerp boekomslag vir Jurisprudence: A South African Perspective deur Johnson, Pete en Du Plessis. Skildery – Seeds and Scales.

2001 Melrose Arch-mosaïekprojek saam met Jane du Rand en Andrew Verster. Gedeeltelik verantwoordelik vir die aanbring van ‘n mosaïek van 400 m2 aan die hysbakskag, toringblok en binne- en buitemure van ‘n gebou deur argitekte van Omm Design Workshop, Durban ontwerp.

Ander professionele aktiwiteite: eksterne eksaminator, Durban Instituut vir Tegnologie, Vaal Universiteit van Tegnologie, Universiteit van Johannesburg, Universiteit van die Witwatersrand, Universiteit van die Vrystaat en Rhodes Universiteit.

Findlay dien ook in die keurpaneel van die Emma Smith Overseas Art Scholarship van die Natal Technikon, is keurder vir kunskompetisies en openingspreker by uitstallings.

Findlay se werk All about everything is monumentaal sowel as groot en verteenwoordig die kunstenaar se oeuvre op ‘n treffende wyse. Die grootsheid van konsep word deur indrukwekkende tegniese uitvoering, diepsinnige inhoud en byderwetse sowel as historiese verwysingsraamwerke ondersteun.

Die uitvoering van All about everything herinner, enersyds, aan die epiese skilderstyle van die abstrakte ekspressioniste, maar tog verteenwoordig dit ook die alledaagse “rommel” van eenvoudige en onmisbare dinge wat enige menslike lewe omring.

Nieteenstaande die epiese afmetings slaag die skildery daarin om die persoonlike stem van die kunstenaar as individu sigbaar te maak en getuig dit van Findlay se voorneme om eerlike en gevoelige werke met menslike appèl te skep. (Commendatio 2007) 

All about everything (2005) – triptiek, olieverf en gemengde media op doek, 200 x 350cm 
Standard Bank Kunsgalery, Johannesburg


Foto verskaf deur die kunstenaar