JAAR
KATEGORIE

Jan van der Merwe

“At present I work with artifacts of our time and attempt to transform them into archaeological remnants.” “The installation becomes an indoor monument to the universal history of ordinary people, their politics and religion and their treasuring of valuables. Rust refers to the transient nature of everything, a return to original matter.” (Hundt ed. 2005)

Jan van der Merwe is in 1958 in Virginia in die Vrystaat gebore en het in Ladysmith, KwaZulu-Natal grootgeword. Hy het in 1975 gematrikuleer. Van der Merwe woon en werk in Pretoria en is ‘n senior lektor in Beeldende Kuns aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT). In 1999 het hy die graad M.A. (Visuele Kunste) aan dié Universiteit verwerf.

Sedert 1976 het hy aan ongeveer 131 nasionale en 18 internasionale groepuitstallings asook verskeie solo-uitstallings deelgeneem. Verskeie artikels het al oor sy werk as praktiserende kunstenaar verskyn en sy kunswerke dien ook as verwysingsmateriaal vir sekondêre en tersiêre studentestudies.

Van der Merwe se werk is in verskeie museum- en korporatiewe versamelings opgeneem.

Toekennings

1982 Nuwe Handtekeninge, SA Kunsvereniging, Pretoria

1999 Sasol Scifest 99. Tema: Kuns en Tegnologie. Eerste Prys: ‘n Reis na Parys, geborg deur die Franse Ambassade en die Instituut vir Navorsingsontwikkeling, Grahamstad 

2002 Hoof-Feeskunstenaar, Hadeda Kunsfees, Tzaneen

2003 Hoof-Feeskunstenaar, Aardklop Nasionale Kunstefees, Potchefstroom

2003 IOK Olimpiese Kunskompetisie: Nasionale wenner, beeldhoukategorie. Prys: Bywoning van die Senior Delfiese Spele 2005

2004 Olimpiese Sport- en Kunswedstryd, Internasionale Vierde Prys, beeldhoukategorie. Diploma of Erkenning

2005 Verteenwoordig Suid-Afrika as installasiekunstenaar by die Tweede Internasionale Delfiese Spele in Kuching, Sarawak, Maleisië. Ontvang ‘n spesiale Internasionale Delfiese toekenning vir “uitstaande aanbieding in die dissipline van installasiewerk” 

2012 Ontvanger van die Ampersand Toekenning. Die prys was twee maande verblyf in New York. 

2014 Fiësta 2014. Beste prestasie – Beeldende Kuns (Tyd en Ruimte-uitstalling, Oliewenhuis Kunsmuseum, Bloemfontein)

Van der Merwe verwys dikwels na sy installasies as “monumente”, ‘n metafoor vir die universele geskiedenis van gewone mense: hul politiek en religie, hul bewaring of versameling van kosbaarhede, in kontras met die monumente wat vir politieke maghebbers opgerig word. Dit is hierdie persoonlike assosiasies wat toeskouers aanspreek, want die kunstenaar probeer menslikheid bewaar. Die materiaal wat hy gebruik, is ‘n toonbeeld van nederigheid, kwesbaarheid en die spirituele kwaliteit en integriteit van sy installasies. (Commendatio 2005)

Die Vertoonkas/Showcase-installasie bestaan uit ‘n vertoonkas wat verouder is deur die oppervlak met geroeste blik te oordek. Die ornamente en trofeë in die kas is ook “verouder” om dit die voorkoms van argeologiese artifakte te gee. ‘n Televisiebeeld in die kas vertoon die beeld van ‘n silwertrofee wat herhaaldelik gepoets word – ‘n verwysing na die “skoonmaak” en herinterpretasie van die verlede wat geslag na geslag in die geskiedenis herhaal word. Bokant die vertoonkas word ‘n videobeeld van die Voortrekkermonument geprojekteer. Die beeld verskyn en verdwyn ritmies, soos gebeurtenisse in die geskiedenis. Die geroeste horlosie bo-op die vertoonkas verwys na die vanitassimboliek van verganklikheid; die vergeefse stryd teen die “roes van die tyd”. 

Showcase/Vertoonkas (2003), gevonde materiaal,
geroeste staal en video projeksies, 151 x 155 x 215cm
Oliewenhuis Kunsmuseum, Bloemfontein

Foto met vergunning van Oliewenhuis Kunsmuseum