Stefans Grové is afkomstig van ‘n familie wat aan vaders- én moederskant om musikale gawes bekend is. (Sy moeder en twee ooms aan moederskant was almal praktiserende musici.) Ná sy opleiding by sy moeder en ‘n oom, David Roode, het hy in Kaapstad aan die Suid-Afrikaanse Musiekkollege opleiding van prof. W.H. Bell ontvang, sodat ‘n spesiale program, aan sy musiek gewy, reeds in 1946 aangebied kon word. ‘n Uitvoering van sy Drie Klavierstukke voor ‘n internasionale gehoor in Salzburg (1952) was een van die eerste blootstellings van ‘n plaaslike komponis aan die res van die musiekwêreld, en sou bydra tot sy verowering van ‘n Fulbright-studiebeurs, in 1953, vir studie aan die Harvard Universiteit. Dié geleentheid sou uiteindelik tot ‘n verblyf van agtien jaar in die VSA lei.
Ná sy terugkeer na Suid-Afrika, in 1972, het hy ‘n pos aan die Universiteit van Pretoria beklee. Grové se werkslys was omvangryk, en het feitlik alle bekende musiek-genres ingesluit. Ten tyde van sy dood, op 29 Mei 2014, het hy pas die eerste deel van ‘n concerto vir altviool en orkes voltooi.
Sy musikale styl, wat sterk bande met die musikale ekspressionisme (met hoofverteenwoordiger Arnold Schönberg) het, het met die verloop van tyd aansienlike aanpassings ondergaan. Die mees onlangse daarvan was sy bewuste besluit, in 1983, om die inheemse musikale elemente van Suidelike Afrika as inspirasiebron te betrek. Die komponis ontwerp ‘n tema wat na sy oordeel die kenmerke van Afrika-musiek weerspieël en dan op ‘n verskeidenheid van wyses ontwikkel word. Grové se gebruik van die orrel in sy drie Afrika Hymnus–
komposisies verteenwoordig ‘n unieke benadering tot die instrument buite die tradisionele assosiasie daarvan met die kerk. Hierby gaan die besonderse koloristiese klankmoontlikhede van die instrument hand aan hand met die komponis se kennis van en vernuf ten opsigte van speeltegnieke en klankkombinasies. As sodanig, en as “himnes”, is die werke veronderstel om ‘n bepaalde grootsheid aan die Afrika-verbintenis te verleen.
Die tweede Hymnus, waarvoor die Helgaard Steyn-prys aan Grové toegeken is, dateer uit 1997. Die werk is vyfdelig, met deelomskrywings wat tipies van Grové se Afrika-oeuvre is: 1. Dansende vroue; 2. Afrika Madonna (na Ernest Mancoba se beeldhouwerk); 3. Vuka! Word wakker! 4. Voor my venster – die eindelose nag; 5. Die pryssanger. (Grové 2014)