Nel Erasmus is in 1928 in Bethal gebore en woon en werk in Johannesburg. Sy het in 1950 die graad B.A. (Visuele Kunste) aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf en in 1952 die Nasionale Kunsonderwysersertifikaat aan die Wit- watersrandse Tegniese Kollege. Verdere studies het onder die Tsjeggies-Duitse skilder Gina Berndtson gevolg; by die École Nationale des Beaux Arts en Académie Ranson in Parys, 1953 tot 1955, en weer by laasgenoemde in 1960 tot 1961. Van 1957 tot 1977 was Erasmus by die Johannesburgse Kunsmuseum werksaam, aanvanklik as Vakkundige Beampte, en gedurende die laaste dekade as Direkteur. Sedertdien wy sy haar lewe voltyds aan haar kuns.
Solo-uitstallings
Erasmus het sedert haar eerste solo-uitstalling in 1957 by die Lidchi-galery in Johannesburg al meer as dertig ander in al die groot sentra van Suid-Afrika gehou. Die jongste, Review; a retrospective exhibition, was in 2011/2012 by die SMAC Kunsgelary, Stellenbosch.
Vorige retrospektiewe uitstallings: 2000 – Sasol Kunsmuseum, Universiteit Stellenbosch; 1986 – Pretoriase Kunsmuseum; 1985 – Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmusem, Kaapstad; Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein en die US Kunsgalery, Stellenbosch.
Groepuitstallings
Erasmus het tot op die hede aan 90 groepuitstallings deelgeneem, waarvan die eerste in 1950 by die Kunstefees, Universiteit van die Witwatersrand was. Daarna, die tiende Salon des Realities Nouvelles, Musée d’ Art Moderne, Parys, 1955; Vyftig Jaar van Abstrakte Kuns, Gallerie Creuze, Parys, 1957; Tweede Paryse Biennale, Musée d’ Art Moderne, 1961; São Paulo Biennale, Brasilië, 1965; die Republiekfees-uitstalling, Pretoria, 1966; ‘n Eeu van Suid-Afrikaanse Kuns, Johannesburg, 1969 en, in 1978/79, Art in South Africa, ‘n rondreisende uitstalling in die VSA. Erasmus se mees onlangse deelname was aan Collection 17, wat in 2012 deur die SMAC Kunsgalery by die Aardklop Nasionale Kunstefees, Potchefstroom aangebied is.
Verteenwoordig in kunsversamelings
Iziko Nasionale Kunsmuseum, Kaapstad; Johannes-burgse Kunsmuseum; Pretoriase Kunsmuseum; Oliewenhuis Kunsmuseum, Bloemfontein; Hester Rupert Kunsmuseum, Graaff-Reinet; Sanlam Kunsversameling, Kaapstad; Sasol Kunsversameling, Johannesburg; Polokwane Munisipale Kunsversameling; Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg; Universiteit van Johannesburg; Universiteit Stellenbosch; Noordwes- Universiteit, Potchefstroom-kampus; Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein; Rembrandt Kuns-stigting, Stellenbosch; Telkom, Pretoria; Rand Merchant Bank, Kaapstad; Anglo American, Johannesburg en Dimension Data, Johannesburg.
In Jazz baby spent autumn kommunikeer die kunstenaar in ‘n dinamiese veelvlakkige wisselwerking van vorms of merke op die plat vlak. Die hoof-element, ‘n Y-vormige merk in die prentvlak, suggereer byvoorbeeld ‘n proses van oopgaan, wording en verandering.
“In hulle verskeidenheid is vorme ekspressies van die onbegrensde vryheid van die mens wat op geestelike vlak vry word van die beperking van tyd en tradisie. As sodanig beskou, dui Jazz baby spent autumn op die mens se gereedheid om nuwe lewensruimtes te betree – ruimtes vry van oorsaak of antesedent.” (Theron 1992)
“Hoewel sy wegbeweeg van die uitbeelding van realisme in haar werke, beskou sy haar werke nie as abstrak nie. Sy meen iets van die filosofie van Vryheid van die Sestigers in die Afrikaanse Letterkunde is te bespeur in haar kuns.” (Die Volksblad, 11 November 1991). In dié tyd het skrywers soos Jan Rabie en Bartho Smit haar pad gekruis.
Jazz baby spent autumn (1991), akrielverf op papier op bord, 101 x 68cm
Oliewenhuis Kunsmuseum, Bloemfontein
–
Kopiereg Nel Erasmus. Foto’s met vergunning van SMAC Kunsgalery, Stellenbosch.