JAAR
KATEGORIE

Christo Jankowitz

“As komponis werk ’n mens in algehele isolasie en dit is dan maklik om moed te verloor. Benewens die blydskap en euforie om ’n prys van hierdie omvang te wen vir ’n werk wat intense energie geverg het om tot uiting te bring, inspireer dit my opnuut in my strewe om musiek van hoogstaande gehalte te lewer.”

Christo Jankowitz ontvang die 2022-Helgaard Steyn-prys vir komposisie

Die komponis Christo Jankowitz (45), is vanjaar die wenner van die Helgaard Steyn-prys vir musiekkomposisie met ‘n prysgeld ten bedrae van R675 000.

Die beoordelaars wat die prys vir sy Strykkwartet Nr. 3 aan hom toegeken het, professor Chris van Rhyn van die Noordwes-Universiteit, mnr. Lance Phillip van die Universiteit van die Vrystaat en professor Hendrik Hofmeyr van die Universiteit van Kaapstad, het die werk beskryf as “met waagmoed bedink, kompleks, knap gekomponeer en meesleurend”. 

“Ek was uit die veld geslaan toe ek hoor die prys word aan my toegeken,” sê Jankowitz.

“As komponis werk ’n mens in algehele isolasie en dit is dan maklik om moed te verloor. Benewens die blydskap en euforie om ’n prys van hierdie omvang te wen vir ’n werk wat intense energie geverg het om tot uiting te bring, inspireer dit my opnuut in my strewe om musiek van hoogstaande gehalte te lewer.”

Sy Strykkwartet Nr. 3 is die eerste keer in 2019 deur die roemryke Odeion-kwartet uitgevoer in die Dr. Miriam Makeba-saal by Unisa.

In hul kommentaar sê die beoordelaars die werk se “oortuigende formele struktuur en harmoniese ontwerp, en deeglike verkenning van omvang, timbre en tekstuur is merkwaardig”. 

Die toekenning is nie die eerste in Jankowitz se musiekloopbaan van meer as twee dekades nie. Hy het onlangs ’n prys van die ATKV ontvang vir sy koorwerk Wees My Genadig, wat as die voorgeskrewe werk vir die ATKV Applous-kompetisie in 2023 gekies is. Hy het ook twee maal pryse gewen by Samro se Oorsese Musiekbeurskompetisie vir komponiste, die MTN CIT:Y-beursprys vir musiek, en die eerste prys vir komposisie in die Sowetan SAMRO-massakoorfeeskompetisie. 

Jankowitz het ’n doktorsgraad in musiekkomposisie by die Universiteit van die Witwatersrand verwerf. Hy het ook as postdoktorale navorsingsvennoot in musiekkomposisie aan die Universiteit van Kaapstad gewerk voordat hy hom in 2018 as senior lektor by Unisa se departement kuns en  musiek aangesluit het. Hy werk tans as vryskut-komponis en onderrig viool en klavier by ’n verskeidenheid skole in Johannesburg.

As beurshouer van die Oppenheimer-gedenktrust het hy in 2012 uitvoerings van sy werk by die Atlantic Music Festival in Amerika bygewoon. Sy komposisies is ook al plaaslik deur die Sontonga-kwartet en deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes onder leiding van Daniel Boico uitgevoer. Van sy klaviermusiek verskyn op die album Prismatica, wat deur die pianis Laura Pauna opgeneem en vroeër vanjaar deur Vektor Productions uitgereik is.

Vir meer inligting, besoek helgaardsteynpryse.co.za of stuur ’n e-pos na info@helgaardsteynpryse.co.za.