Johannes Daniel (John) Miles is op 1 Augustus 1938 in Port Elizabeth gebore en het aan die Hoërskool Erasmus op Bronkhorstspruit gematrikuleer. Hy het die graad M.A. in Sosiologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf en ook later ’n honneursgraad in Afrikaans. Miles het voorts ‘n lektor in Afrikaans Taalkunde aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg geword en sedert 1967 was hy lank aan die Universiteit van die Witwatersrand se Departement Afrikaans en Nederlands verbonde.
Sy eerste gedigte het in 1963 in Standpunte verskyn en een gedig in D.J. Opperman en Le Roux se Stiebeuel 2 van 1965. Hy het in 1970 met die kortverhaalbundel Liefs nie op straat nie gedebuteer. Sedert sy aftrede in 1998 bly hy op ’n plaas, Katstaartlaagte, naby Nieuwoudtville, waar hy met rooibostee, olyfbome en boegoe boer.
Miles is medestigter van Taurus, die Afrikaanse uitgewery wat in die sewentigerjare gestig is om boeke te kon uitgee wat die hoofstroomuitgewers, weens die Wet op Publikasies, huiwerig was om te publiseer. Die ander stigterslede was Ampie Coetzee en Ernst Lindenberg. André P. Brink se Oomblik in die wind was een van die eerste boeke wat deur Taurus uitgegee is.
In 1978 is Miles se satiriese roman, Donderdag of Woensdag deur ’n komitee van publikasies verbied. In 1983 is die verbod opgehef.
Taurus het Miles se boek, Stanley Bekker en die boikot, in 1980 gepubliseer en dit was die eerste Afrikaanse kinderboek wat verbied is. Dié kinderboek, vertel vanuit die perspektief van ’n bruin seun wat die diskriminasie van apartheid beleef, is tot verbode leesstof verklaar.
Lys van publikasies – Prosa
1970 Liefs nie op straat nie
1973 Okker bestel twee toebroodjies
1978 Donderdag of Woensdag
1983 Blaaskans – die bewegings van Flip Nel
2003 Die buiteveld
2009 Voetstoots
Kinderboek
1980 Stanley Bekker en die boikot
“Kroniek uit die doofpot word as ‘n Polisieroman aangebied – oënskynlik ‘n onskuldige subtitel wat die illusie van ‘n lekker ontspanningsverhaal wek. Die leser word egter met ‘n skrikwekkende en ontstellende relaas van gebeurtenisse gekonfronteer wat deur die tegniek van onderbeklemtoning – less is more – soveel ontstellender word.” (Commendatio 1992)
Die roman dateer uit die Noodtoestand van die tagtigerjare. “Ek wou met hierdie roman doelbewus soveel moontlik lesers bereik, ook lesers wat andersins nie my sienswyses deel nie. Ek wou alles moontlik doen – op die wyse van ‘n roman, natuurlik – om juis my Afrikaner-medeburger te oortuig van die waansin van onverdraagsaamheid en onbillikheid, en uiteindelik van die volstrekte dwaasheid waarin die beleid van Totale Paraatheid ons laat beland het.” (John Miles, Bedankingswoord)
“Kroniek uit die doofpot is ’n meesleurende verhaal. Dis aangrypend, ontstellend en kan geen leser koud laat nie.” Joan Hambidge, Beeld (1991)
Die gespanne, gelade prosa maak Kroniek uit die doofpot Miles se allerbeste werk en een van die merkwaardigste en sterkste romans in die Afrikaanse prosa as sodanig.” JC Kannemeyer, Beeld (1991)
Miles het in 1992 ook die M-Net- en CNA-prys vir hierdie roman ontvang.
In 1997 is Kroniek uit die doofpot in Engels as Deafening silence vertaal en dit is tot ’n minireeks verwerk wat op televisie uitgesaai is.