Andrieta Wentzel is ‘n dosent in driedimensionele studies aan die Skool vir Musiek, Kuns en Ontwerp, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU), Port Elizabeth. Sy het in 2006 die graad M.A. (Visuele Kunste) aan die NMMU verwerf. Sedertdien verdeel sy haar tyd tussen doseerwerk en groot opdragwerke. Sy gaan ook voort met skilder- en tekenwerk en die skep van beeldhouwerke in ‘n groot verskeidenheid van media (olie, pastel, gemengde media, gevonde objekte, brons en hout).
Wentzel se eerste solo-uitstalling was in 1989 in the EPSAC-galery in Port Elizabeth. Hierna het deelname aan meer as vyftig groepuitstallings in Port Elizabeth, Kaapstad, Stellenbosch, Pretoria en Kimberley gevolg, asook aan die Standard Bank Nasionale Kunstefees in Grahamstad.
Haar jongste deelname was aan die uitstalling Journeys (2014) by die Nelson Mandela Metropolitaanse Kunsmuseum, Port Elizabeth, waar die bekroonde werk Aspects of the Dark Other uitgestal is en Wentzel ook ‘n lesing en rondleiding aangebied het. Sy stal ook gereeld plaaslik en nasionaal uit.
Andrieta Wentzel het verskeie opdragwerke uitgevoer, soos ‘n bronsborsbeeld van Nelson Mandela vir die Oos-Kaapse Provinsiale Wetgewer in Bisho (wat in 2004, op Mandela se 86ste verjaarsdag, aan hom oorhandig is), ontwerpe vir keramiekteëls en reliëfpanele vir die Landdroshof in Port Elizabeth en olieverfskilderye vir Sun International se belange in dié stad.
Die titel van Wentzel se M.A.-verhandeling was The Four Cycles of Heracles: Towards the Visual Articulation of Myth as a Psychological Process, waarin sy die vier siklusse van Hercules bestudeer het ter verkenning van die visuele uitbeelding van mites as ’n sielkundige proses. Hiervoor het sy Jung se gedagte van individuasie ondersoek en in haar uitstallingswerk vir haar finale eksamen, getiteld Aspects of the Dark Other, die twaalf take van Hercules probeer vertolk.
Die twaalf totempale verbeeld nie letterlik die verhaal van Hercules se twaalf take nie, maar poog om ‘n gevoel te skep waarin die Aspects of the Dark Other gedurende die reis na psigiese volwassenheid getrotseer word. Die installasie is ‘n voorstelling van die reis na die innerlike self, deur die assimilasie van die argetipes: skadu, die anima en die wyse ou man.
Aanvanklik was die installasie van die twaalf nieshout-totempale in ’n middelpuntsoekende spiraal gerangskik – op die kern gefokus en gerig. Die eerste twee totems val in die eerste siklus van die held se take en in die eerste fase van individuering, wat daarop toegespits is om die skadukant te erken en te integreer.
Die derde tot negende totem val in die tweede fase – die spanning tussen die twee pole, wat gewoonlik halfpad deur die lewe voorkom. Die doel van die tweede siklus is om die negatiewe aspekte van die skadukant van die argetipes te aanvaar ten einde ook hul positiewe kreatiewe kenmerke te onthul.
Totem tien en elf handel oor die derde siklus, om die betekenis agter die pare teenoorgesteldes te bepaal. Gedurende die twaalfde taak moes Hercules sy derde doop van die aarde/onderwêreld oorleef.
Werke in versamelings
Beeldhoukuns in die Nelson Mandela Metropolitaanse Kunsmuseum (NMMK), Port Elizabeth en bronsbeeldhouwerk in ‘n private versameling, Duitsland.
Tekeninge in ‘n private versameling, Engeland; private versamelings, Suid-Afrika en Telkom, Suid-Afrika.
Skilderye in die Salon Prive en Casino, Sun International en NMMK, Port Elizabeth.
Ciment Fondu openbare beeldhouwerk, Sun and Sea, Happy Valley, Port Elizabeth.
Reliëfpanele by Geregshof, Port Elizabeth.
Olifantbeeldhouwerke by Oostelike Provinsie Kommandement, Lugmagbasis.
Drie beeldhoufigure by die Sister Ethal’s Missionvale Kerk, Port Elizabeth.
‘n Bronsportret van Nelson Mandela in die Nelson Mandela-kunsversameling.
Ander toekennings
1993 & 94 Sanlam-beurse
1994, 95 & 97 Merietetoekennings, NMMU
1996 Robert Niven-beurs en die EPSAC-beurs
2006 NMMU-beurs asook die P.A. & Aliza Malan Trust-beurs (Worcester)
2009 & 2012 NMMU Kreatiewe uitsette in beeldende kuns
Aspects of the Dark Other (2006),
installasie van nieshout en gemengde media, h± 218 cm
Nelson Mandela Metropolitaanse Kunsmuseum, Port Elizabeth
–
Foto’s met vergunning van die kunstenaar