Pauline Gutter is in 1980 gebore en het op die plaas Nuwe Orde in die Vrystaat grootgeword. Sy het die graad B.A. (Skone Kunste) met lof aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf, asook erekleure vir Kuns en Kultuur.
Haar verkose media is olies, houtskooltekening en video. Haar werk kan beskryf word as ‘n sigbare weergawe van strepe en kleur. (Van den Berg 2011) Sy beskou haar kuns as ’n manier om gemeenskappe byeen te bring: “Kuns is ’n instrument van diversiteit wat mense genees.” (Van Wyk 2012)
Uitstallings
2008 Werke by Art Miami uitgestal.
2010 Werke in Johnny Clegg se program A Country Imagined (SABC 2).
Uitstalling Stand by Aardklop Nasionale Kunstefees, Potchefstroom.
2011 Solo-uitstallings by die Universiteit van Stellenbosch, Potchefstroom-kampus van NWU en Oliewenhuis Kunsmuseum, Bloemfontein.
Reisende groepuitstalling Rendezvous, a focus on painting, by Aardklop Nasionale Kunstefees 2011, Potchefstroom.
Werke deur Everard Read Gallery by Joburg Art Fair uitgestal.
2011 Werke ook by die reisende groepuitstalling Land: Diversity and Unity: South Africa and India ingesluit.
Die skildery Die Makelaar is in 2011 vir die tweede rondte van die British Portrait Awards in Londen gekies. Gutter was ook finalis in Sasol Nuwe Handtekeninge en, in 2013, in die ABSA L’Atelier-toekennings.
Werke in versamelings
Oliewenhuis Kunsmuseum, Bloemfontein; William Humphreys Kunsmuseum, Kimberley; Sanlam-kunsversameling; ABSA-kunsversameling; Universiteit van Stellenbosch, Universiteit van die Vrystaat en Noordwes Universiteit (Potchefstroom-kampus); verskeie private en korporatiewe versamelings in Suid-Afrika en oorsee.
Pauline Gutter werk telkens met plaasdiere, figure en portrette, soms in jukstaponering uitgebeeld, waarin veral die inherente kwesbaarheid van die subjek as slagoffer uitgebeeld word. Sy is al beskryf as ‘n kunstenaar in wie se werke olieverf as voorkeurmedium gebruik word ten einde “die onsigbare sigbaar te maak”. Deur van fotografie, video en ander media gebruik te maak, laai sy haar werke met ‘n gevoel van dringendheid en blootstelling wat veral met plaasmoorde verband hou, met mens en dier wat as slagoffers, weerlose ikone van ‘n plattelandse gemeenskap uitgebeeld word.
Silenced I is ‘n kwalitatief-puik en verteenwoordigende voorbeeld van Gutter se werk. Dit is ‘n ekspressiewe portretstudie met ‘n verwantskap aan die werke wat sy rondom plaasaanvalle gedoen het; ‘n maskeragtige verteenwoordiging van die slagoffer, reeds vergaan, met wie die aanskouer slegs deur middel van die oorkoepelende teenwoordigheid en vitaliteit van die skildery kan identifiseer. (Commendatio 2011)
Pauline Gutter wil land, mens en bees peil deur hulle metafories te vervleg tot figure van mekaar – amper soos beelde wat onderling tussen drie spieëls gekaats word. Daar heers ‘n oorlewingstryd in die gevaarlike wêreld wat hierdie werke vir ons projekteer. Ons aanskou land, mens en dier in extremis, want hulle word as sagte teikens en stemlose slagoffers voorgestel.
Die geweld word nie openlik uitgebeeld nie, maar eerder in die skilderkunstige medium beliggaam. Die skilderkunstige maakproses ontplooi en ontrafel in hierdie werke tot ‘n buitengewone verskeidenheid van merke en motiewe – soms energiek, hardhandig en selfs gewelddadig aangewend, op bepaalde punte kroes en kras, by tye egter ook met ‘n uiters behendige en verfynde aanslag. (Van den Berg 2011)
Silenced I (2008), olieverf op doek, 150 x 100cm
Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
–
Foto met vergunning van die Johannes Stegmann Kunsgalery