JAAR
KATEGORIE

PG du Plessis

Du Plessis se styl is vlot en onderhoudend – hy vertel immers ’n hoogs emosionele verhaal – en hy doen dit met die nodige dramatiese flair. Marina le Roux, Die Burger (2008)

Pieter Georg (PG) du Plessis is op 14 Julie 1934 op Boshof in die Vrystaat gebore en het aan die Hoër Volkskool op Heidelberg gematrikuleer. In 1955 het hy die graad B.A. (Afrikaans-Nederlands en Geskiedenis) aan die Universiteit van Pretoria verwerf. In 1966 het hy ‘n doktorsgraad oor Die verwysing in die literatuur onder NP van Wyk Louw verwerf. Later was hy ’n direkteur by die RGN, eindredakteur van die tydskrif Standpunte, assistentredakteur van die dagblad Die Transvaler en redakteur van Hoofstad.

Sy eerste drama, Die nag van legio, het in 1969 die lig gesien. In 1972 het hy die Hertzogprys vir drama vir Legio en Siener in die suburbs ontvang. Hy het ook bekendheid verwerf met Koöperasiestories, wat tot ‘n TV-reeks verwerk is. Hy was die draaiboekskrywer vir die TV-reeks, Feast of the Uninvited, wat later tot sy roman, Fees van die ongenooides, wat in 2008 verskyn het, verwerk is. Du Plessis woon op sy plaas naby Rysmierbult in die destydse Wes-Transvaal.

Wetenswaardighede

Siener in die suburbs is in die sewentigerjare opgevoer, met Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Don Lambrecht en Louis van Niekerk in die hoofrolle. Dit is later vir die radio en televisie verwerk. In 2002 is Siener onder regie van Chris Vorster by die KKNK opgevoer.

Du Plessis en Jan Spies was die aanbieders van die gewilde TV-program Spies en Plessie … met permissie.

Du Plessis het in 1987 sy eie rolprentmaatskappy gestig en het die draaiboeke vir flieks soos Nag van die negentiende, Liewe hemel, Genis en Koöperasiestories: die moewie geskryf.

In die laaste paar jaar is sy toneelstukke soos Nagkantoor en Sophia Mentz beredder haar boedel landwyd opgevoer.

Lys publikasies

LITERÊRE KRITIEK

1968 Die verwysing in die literatuur

DRAMA

1969 Die nag van legio

1971 Siener in die suburbs

1973 Plaston: DNS-kind

1977 ’n Seder val in Waterkloof

1985 Vereeniging, Vereeniging

PROSA: KORTVERHALE

1980 Koöperasiestories op Donderdag

1983 Hier sit die manne …

1985 Nog koöperasiestories

1991 Koöperasiestories: die omnibus

1997 Tussen die riewe

1998 Tweehonderd stories

2006 120+ sommerstories

2009 Kortetjies en ‘n lange

PROSA: SKETSE

1987 Het olifante elmboë?

1993 Neklis

PROSA: ROMAN

1998 The Married Man’s Guide to Adultery: A Study of Adulterations

2008 Fees van die ongenooides

Ander bekronings

1970 W.A. Hofmeyr-prys – Die nag van legio 

1971 CNA-prys – Siener in die suburbs 

1972 Hertzogprys vir drama – Die nag van legio en Siener in die suburbs 

1973 W.A. Hofmeyr-prys – Siener in die suburbs 

1988 FAK-prys vir Ontspanningsleesstof – Het olifante elmboë?

2002 Insig Afrikaans Onbeperk Pioniersprys 

2007 ATKV-televisieprys vir beste draaiboek – vir die TV-reeks Dryfsand

2009 ATKV-prosaprys 

 

Vertalings

1969 Die nag van legio – Engels (My name is Legion)

1971 Siener in die suburbs – Engels (Seer in the suburbs – teaterproduksie)

PG du Plessis het die Helgaard Steyn-prys vir die beste werk van enige aard wat die voorafgaande vier jaar in Afrikaans verskyn het vir sy hoogs suksesvolle Anglo-Boereoorlog-roman, Fees van die ongenooides, ontvang.

Die roman handel oor die wel en wee van ’n uitgebreide Vrystaatse familie, die Van Wyks, tydens die Anglo-Boereoorlog – ’n oorlog wat in die kollektiewe psige van Suid-Afrikaners steeds ’n belangrike herinnering is. Nogtans is hierdie roman geen tipiese verhaal oor die Anglo-Boereoorlog nie, omdat die aandag juis op ongewone en onbekende fasette van die oorlogsgeskiedenis gevestig word, maar veral ook omdat die vertelstyl van die roman ’n bepaalde blik op die historiese gegewens bied.