Roelof Temmingh was lid van ‘n musikaal begaafde familie (vader, twee broers en ‘n suster bedrywig as musici), wat in 1958 na Suid-Afrika geëmigreer het. Na aanvanklike teologiestudies aan die Universiteit van Kaapstad het Temmingh ‘n musiekloopbaan gevolg metmentors soos Gideon Fagan en Gunther Pulvermacher.
Hy was later opeenvolgend musiekdosent aan UNISA en die destydse Universiteit van Port Elizabeth. As wenner van ‘n komposisiewedstryd in 1972 kon hy sy studies in Darmstadt – destyds ‘n vooraanstaande sentrum vir die na-oorlogse avant-garde-musiek – voortsit. Hy was hierna, van 1973 tot 2004, aan die Universiteit van Stellenbosch verbonde.
Vroeë uitdagende komposisies kenmerk hom as ‘n enfant terrible van die destydse Suid-Afrikaanse musieklewe. Sedert die middel-tagtigerjare het meer gematigde en luisteraarsvriendelike werke ontstaan en die belang-riker komposisies verteenwoordig. Benewens vroeëre elektroniese pogings het Temmingh bydraes op allerlei terreine gelewer, met inbegrip van die liedkuns, koraalvoorspel, instrumentale werke, geestelike koormusiek en opera. Sy laaste grootskaalse werk is die vioolkonsert van 2010.
Temmingh, as skeppende kunstenaar, se werk getuig deurgaans van oorspronklikheid van ingewing, vorm en tegniek. Eiesoortige titels is kenmerkend en het dikwels ‘n ironiese of humoristiese inslag.
Die Drie Sonnette dra die vreemde titels Flarde, Penta en Dodeka en d-moed. Waar die eerste hiervan op die frag- mentariese aard van die materiaal wys, hou die tweede deel verband met ‘n gewilde faset van twintigste-eeuse musiek, d.w.s. die gebruik van pentatoniese (vyftonige) materiaal en die gebruik van al twaalf (duo-deka) chro- matiese tone van die beskikbare Westerse toonleer. Die derde stuk is skynbaar ‘n woordspeling wat terselfdertyd die karakter van die deel en die d-toonhoogte omskryf. (Grové 2014)