JAAR
KATEGORIE

Roelof Temmingh

Die toekenning van 2006 se Helgaard Steyn-prys vir Komposisie was om twee redes merkwaardig. In die eerste plek was die prysgeld meer as R100 000, wat dit een van die grootste toekennings vir die kunste in Suid-Afrika maak. Tweedens is die vorige wenner vir Komposisie (in 2002), naamlik prof. Roelof Temmingh, ook in dié jaar as wenner aangewys.

Roelof Temmingh was lid van ‘n musikaal begaafde familie (vader, twee broers en ‘n suster bedrywig as musici), wat in 1958 na Suid-Afrika geëmigreer het. Na aanvanklike teologiestudies aan die Universiteit van Kaapstad het Temmingh ‘n musiekloopbaan gevolg met mentors soos Gideon Fagan en Gunther Pulvermacher.

Hy was later opeenvolgend musiekdosent aan UNISA en die destydse Universiteit van Port Elizabeth. As wenner van ‘n komposisiewedstryd in 1972 kon hy sy studies in Darmstadt – destyds ‘n vooraanstaande sentrum vir die na-oorlogse avant-garde-musiek – voortsit. Hy was hierna, van 1973 tot 2004, aan die Universiteit van Stellenbosch verbonde.

Vroeë uitdagende komposisies kenmerk hom as ‘n enfant terrible van die destydse Suid-Afrikaanse musieklewe. Sedert die middel-tagtigerjare het meer gematigde en luisteraarsvriendelike werke ontstaan en die belang-riker komposisies verteenwoordig. Benewens vroeëre elektroniese pogings het Temmingh bydraes op allerlei terreine gelewer, met inbegrip van die liedkuns, koraalvoorspel, instrumentale werke, geestelike koormusiek en opera. Sy laaste grootskaalse werk is die vioolkonsert van 2010. 

Temmingh, as skeppende kunstenaar, se werk getuig deurgaans van oorspronklikheid van ingewing, vorm en tegniek. Eiesoortige titels is kenmerkend en het dikwels ‘n ironiese of humoristiese inslag.

Temmingh het die prys vir sy Kantorium vir koor, soliste en orkes ontvang. Dié werk is in opdrag van die Evangelisch-Lutherische Kirche in Pfalz, Duitsland vir dubbele feesvieringe in 2004 geskryf – 475 jaar sedert die Reformasie, sowel as die eeufees van die massiewe Gedächtniskirche in Speyer. 

Die titel Kantorium suggereer ‘n hibriede vorm tussen kantate en oratorium – gebaseer op tekste wat deur die komponis self uitgesoek is. Die werk toon bepaald ses strukturele ooreenkomste met Händel se Messias-oratorium: Dit is tweeledig; die eerste deel het betrekking op die skeppingsverhaal en eindig met die belofte van troos. Die langer, tweede deel het ‘n Nuwe Testamentiese strekking en sluit die kruisiging en opstanding van Christus in. (Grové 2014)