Lodewyk G. du Plessis se debuut, Die Dao van Daan van der Walt, is die wenner van die Helgaard Steyn-prys 2020 vir Skryfkuns. Die roman is ook al met die UJ-debuutprys, die Eugène Maraisprys, die W.A. Hofmeyrprys, die ATKV-Prosaprys, asook die kykNET-Rapportprys vir fiksie bekroon.
Toe Daan van der Walt, ’n eerstydse Kalahariboer, ’n vertigoaanval kry, laai sy vervreemde seun hom by ’n monnikeklooster in China af. Onder leiding van Meester Yang moet Daan tai chi doen in ’n poging om sy balans te herstel. Maar daar is ook iets anders wat aan Daan vreet, iets wat hy van sy hart móét afkry voor hy sy weg na die hiernamaals kan vind. Dalk is dit tyd dat hy aan Magrieta, sy oorlede vrou, skryf en sê dat hy haar liefgehad het. In Die Dao van Daan van der Walt word die Afrikaner-dilemma in die moderne lewe met ’n fyn lem oopgevlek.
Huldigingswoord
Die Dao van Daan van der Walt is ʼn uitsonderlike debuutwerk. Hiervan getuig die etlike literêre pryse wat dit reeds vir die skrywer ingeoes het.
Dit is ‘n roman wat die leser intellektueel uitdaag, konfronteer met aktuele vraagstukke én emosioneel tref. Terselfdertyd is dit ʼn innemende boek; die hoofkarakter is iemand met wie lesers hulle om verskeie redes kan vereenselwig.
In Longshan in China, waarheen sy seun geëmigreer het en by wie hy besoek aflê, wankel Daan van der Walt se lewe letterlik wanneer hy ʼn vertigo-aanval beleef. Dié krisis verteenwoordig terselfdertyd ʼn figuurlike ewewigsverlies vir hierdie oud-regsgeleerde en voormalige Dopperboer uit die droë, noordwestelike dele van ons land.
Van daar “in die land van die feniks en die draak” af, waar hy in ʼn Boeddhistiese monnikeklooster beland het om sy liggaamlike en psigiese balans via gevegkunsoefeninge te probeer herwin, begin Daan om “bekentenisse” (oftewel, historia) aan sy reeds ter aarde bestelde lieflinghond, Kaspaas, asook briewe aan sy oorlede vrou, Magrieta, te skryf. Daarin doen hy verslag oor sy Verre-Oosterse verblyf, maar besin algaande ook indringend oor insidente uit sy Suid-Afrikaanse verlede.
Dié “ondersoekende reis deur sy geskiedenis” vertoon kenmerke van ’n belydenis. Daan openbaar daardeur stelselmatig sy persoonlike en beskoulike vergrype as “stil en sterk” Afrikaner, en kom uiteindelik daartoe om vergiffenis daarvoor te vra. Aanvanklik is sy relaas lighartig en moedswillig versluierend van aard, maar soos sy inwyding in Boeddhistiese beginsels ontwikkel en sy psigiese proses van selfontdekking vorder, raak hy eerliker.
Eers huiwerig, maar algaande met groter aptyt, leer Daan ook “proe” aan ’n nuwe, sagter, meer veelkantige woordeskat – juis dit wat hom in staat stel om uitgesê te kry wat hy nooit voorheen teenoor sy vrou, sy vriende en veral sy seun onder woorde kon bring nie.
Op verwikkelde en aandoenlike wyse word veral die pa-seun-verhouding gedissekteer soos dit geraak word deur die “vreemde” van, onder meer, die gay-identiteit. Die geykte verwagtings oor wat Christenskap en Afrikanermanlikheid impliseer, word verrassend én oortuigend omgedop.
Daan skryf hom as’t ware los uit verstarring, uit ’n doodloopstraat. Sodoende kan hy die eintlike hy word.
Sowel die taalgevoeligheid van die skrywende hoofkarakter as die humorvolle erns waarmee die relativering van tradisionele verknogthede ondergaan word, dra by om ‘n meevoerende leeservaring soos min te verseker. Om Daan van der Walt op sy selfontdekkingspad te volg is ʼn soms onthutsende, dikwels snaakse, deurgaans verkwiklike avontuur. Die leser kom boonop onder die indruk dat ʼn koers wysheid toe ingeslaan is.
Ons wil met die toekenning van die Helgaard Steyn-prys 2020 aan Lodewyk G. Du Plessis graag onderstreep dat Die Dao van Daan van der Walt ‘n wenboek is.
Die Dao van Daan van der Walt is ‘n uitsonderlike debuutwerk. Hiervan getuig die etlike literêre pryse wat dit reeds vir die skrywer ingeoes het.
Dit is ʼn roman wat die leser intellektueel uitdaag, konfronteer met aktuele vraagstukke én emosioneel tref. Terselfdertyd is dit ʼn innemende boek; die hoofkarakter is iemand met wie lesers hulle om verskeie redes kan vereenselwig.
In Longshan in China, waarheen sy seun geëmigreer het en by wie hy besoek aflê, wankel Daan van der Walt se lewe letterlik wanneer hy ʼn vertigo-aanval beleef. Dié krisis verteenwoordig terselfdertyd ʼn figuurlike ewewigsverlies vir hierdie oud-regsgeleerde en voormalige Dopperboer uit die droë, noordwestelike dele van ons land.