Nominasies word tans ingewag vir die Helgaard Steyn-toekenning vir Beeldhoukuns in 2021.
Die Helgaard Steyn Trust het tot stand gekom uit die boedel van wyle dr J H (Jan) Steyn (1902-1983), ’n oud-student van die voormalige Grey-Universiteitskollege (die huidige Universiteit van die Vrystaat), LV vir Potchefstroom en direkteur van maatskappye. Die Trust is vernoem na sy vader, ’n voormalige LPR van Bloemfontein en jongste broer van die laaste republikeinse president van die Oranje-Vrystaat, M T Steyn. Die huidige trustees is Me Hanneli Rupert-Koegelenberg, Mnr Gerard Rupert, Mnr Francois van der Merwe, Mnr Johannes van Niekerk and ABSA TRUST LTD.
Die Trust het ten doel die bewaring van landbougrond in die Vrystaat en die bevordering van die kunskultuur van Suid-Afrika. Vyftig persent van die jaarlikse netto huurgelde op die bewaringsgebied word jaarliks aangewend vir ’n Helgaard Steyn-toekenning. Die waarde van die toekenning het met verloop van tyd aansienlik gegroei sodat dit een van die grootste kunspryse in die land geword het (méér as R400 000.00). Dit word in ’n vierjaarlikse siklus toegeken en roteer tussen die dissiplines van toonkunskomposisie, skilderkuns, letterkunde en beeldhoukuns, en word om die beurt te Potchefstroom en Bloemfontein oorhandig.
Vorige ontvangers van Helgaard Steyn-toekennings vir Beeldhoukuns is David Brown (1989), Jackson Hlungwane (1993), Gert Swart (1997), Willem Boshoff (2001), Jan van der Merwe (2005), Adrieta Wentzel (2009), Wim Botha (2013) en Angus Taylor (2017).
Volgens die bepalings van die boedel stel die rektore van die universiteite van Noordwes (NWU) en die Vrystaat (UV) elk jaarliks ’n beoordelaar in die betrokke kunsdissipline aan. Laasgenoemde twee benoem gesamentlik ’n derde beoordelaar. In 2021 sal Jan van der Merwe (vorige ontvanger van die toekenning en lektor by die Tshwane Universiteit van die Tegnologie) as derde lid van die paneel saam met Angela de Jesus (namens die UV) en Moya Goosen (namens die NWU) optree as die beoordelaars vir die prys vir beeldhoukuns.
Nominasies vir 2021
Die volgende bepalings is van toepassing in die nominasie van kandidate vir die Helgaard Steyn-toekenning in 2021:
- Die Helgaard Steyn-pryse word toegeken aan enige Suid-Afrikaans gebore kunstenaar wat oor die afgelope vier jaar ’n kunswerk gelewer het wat, volgens die beoordelaars, die mees verdienstelike werk in die betrokke dissipline is, wat publiek toeganklik bewaar word, byvoorbeeld in ’n openbare kunsversameling of permanent geïnstalleer is aan/in ’n openbare gebou of ruimte in Suid-Afrika.
- Die beoordelaars interpreteer bepalings so dat die verdienstelikheid van die kunswerke wat vir bekroning oorweeg word, hul verteenwoordiging van hoogstaande prestasies en vernuwende leierskap wat die kunstenaar oor ’n langer tydperk gelewer het, sal insluit.
- Die beoordelaars het die verantwoordelikheid om die oorspronklike testamentêre bepalings te versoen met ’n inklusiewe vertolking van die kategorieë van skilderkuns en beeldhoukuns wat tred hou met heersende kunspraktyke. Gevolglik sluit ‘beeldhoukuns’ in vrystaande beelde en konstruksies, reliëfwerk en binneshuise of opelug installasies in enige permanente medium, ook keramiek.
- Kunsmuseums, galerye en hul afgevaardigdes, kurators, kuns-konsultante en kunste-praktisyns word uitgenooi om kunswerke te nomineer deur die paneel van beoordelaars te voorsien met ’n motivering, ’n curriculum vitae van die betrokke kunstenaar en die besonderhede van die betrokke kunswerk (insluitende visuele dokumentasie).
- Rig nominasies en navrae aan die volgende adres:
Tel: 083 324 2445
E-pos: admin@helgaardsteynpryse.co.za
‘n Nominasievorm is ook beskikbaar op die amptelike webtuiste – www.helgaardsteynpryse.co.za
Die keerdatum vir nominasies is 26 Julie 2021. - Daar sal namens die Trust in geen verdere korrespondensie getree word oor die meriete van spesifieke toekennings nie.
Die Helgaard Steyn Pryse word jaarliks, in vierjaarlikse afwisseling, toegeken aan:
Die kunsskilder wat in die dan afgelope vier jaar die beste skilderwerk geskep het en op ‘n openbare uitstalling te koop aangebied het, of so ‘n skilderstuk in opdrag van ‘n private persoon of ‘n openbare liggaam geskep het, mits dit dan op so ‘n wyse in die openbaar geplaas word dat die algemene publiek redelike toegang daartoe het.
Die skrywer van die beste werk van enige aard in die Afrikaanse taal wat in die dan afgelope vier jaar in minstens driehonderd (300) druk-eksemplare op die ope mark te koop aangebied is.
Die beeldhouer wat in die dan afgelope vier jaar die beste beeldhouwerk geskep het en op ‘n openbare uitstalling te koop aangebied het, of so ‘n beeldhouwerk in opdrag van ‘n private persoon of ‘n openbare liggaam geskep het, mits dit dan op so ‘n wyse in die openbaar geplaas word dat die algemene publiek redelike toegang daartoe het.
Die komponis wat in die dan afgelope vier jaar die beste musiekwerk gekomponeer het en minstens tien volledige eksemplare daarvan op die ope mark te koop aangebied het.
Die Geskiedenis van die Helgaard Steyn Trust
Die Helgaard Steyn Trust het tot stand gekom uit die boedel van wyle dr. Johan Heinrich (Jan) Steyn. Hy is op 20 April 1902 gebore en was die oudste van ses kinders van Barendina Wilhelmina (Dina) Richter en Hillegard Mulder (Helgaard) Steyn.
Dr. Steyn was ‘n oud-student van die voormalige Grey-Universiteitskollege (die huidige Universiteit van die Vrystaat). Hy het ‘n doktorsgraad in Ekonomie en Staatsleer (cum laude) aan die Universiteit van Heidelberg in Duitsland verwerf.
In 1961 het Potchefstroom Universiteitskollege (die huidige Noordwes-Universiteit) ‘n eredoktorsgraad in die Ekonomiese Wetenskappe aan hom toegeken.
Hy het, tot sy uittrede in 1966, agtien jaar lank as LV vir Potchefstroom gedien. Hy was ‘n vrygesel en is op 15 Desember 1983 in die ouderdom van 81 jaar in Bloemfontein oorlede.
1987 – Pippa Skotnes vir Lament/Klaagsang
1991 – Nel Erasmus vir Jazz Baby/Spent Autumn
1995 – Robert Hodgins vir South African Summer: All This is So, And Yet …
2003 – Cyril Coetzee vir T’kama-Adamastor
2007 – Bronwen Findlay vir All about everything
2011 – Pauline Gutter vir Silenced I
2015 – Penny Siopis vir Swarm
2019 – Pat Mautloa vir Urban Vibes (City Buzz)
1989 – David Brown vir Voyage II
1993 – Jackson Hlungwani vir Tiger Fish II, Adam and the birth of Eve, Large crucifix, God and Christ, Michael Star en Altar of God
2001 – Willem Boshoff vir Blind alphabet ABC
2005 – Jan van der Merwe vir Showcase
2009 – Andrieta Wentzel vir Aspects of the dark other
2013 – Wim Botha vir Blastwave
2017 – Angus Taylor vir Dionysus
1988 – Karel Schoeman vir ’n Ander land
1992 – John Miles vir Kroniek uit die doofpot
1996 – Breyten Breytenbach vir Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde
2000 – John Kannemeyer vir Leipoldt: ’n Lewensverhaal
2008 – Marlene van Niekerk vir Agaat en Hermann Giliomee vir Die Afrikaners
2012 – PG du Plessis vir Fees van die ongenooides
2016 – Willem Anker vir Buys
2020 – Lodewyk G. du Plessis vir die Dao van Daan van der Walt
1990 – Roelof Temmingh vir Drie sonnette
1994 – Peter Klatzow vir From the poets
1998 – Stefans Grové vir Afrika Hymnus II
2002 – Roelof Temmingh vir Kantate Wenn wir in höchsten Nöten sein
2006 – Roelof Temmingh vir Kantorium
2010 – Hans Huyssen vir Proteus Variations
2014 – Peter Klatzow vir Lightscapes
2018 – Adrian More vir Klavierkonsert No 1