Vanjaar se toekenning word gemaak vir skryfkuns, en enige Afrikaanse werk – fiksie of nie-fiksie – wat tussen 2020 en 2023 verskyn het in ʼn oplaag van minstens 300 eksemplare, het in aanmerking gekom vir die eerbewys. Die paneel van beoordelaars word saamgestel uit ’n nominasie elk van die Universiteit van die Vrystaat en die Noordwes-Universiteit, en ’n derde onafhanklike beoordelaar word deur die genomineerde kandidate aangewys. Die sameroeper van hierdie jaar se paneel is prof. Henning Pieterse (Universiteit van die Vrystaat) en die ander paneellede was prof. Thys Human (Noordwes-Universiteit) en me. Valda Jansen.
’n Totaal van 97 boeke is vir vanjaar se Helgaard Steyn-prys in ag geneem en voorgelê. Die aanbod sluit in digbundels, kortverhaalbundels, romans, novelles, teologiese,historiese en filosofiese tekste.
“Alhoewel die getal inskrywings byna ’n derde minder was in vergelyking met die vorige prys in 2020, toe bykans 150 titels voorgelê is, was die beoordelaars dit eens dat die gehalte van vanjaar se inskrywings, breedweg gesien, op ’n hoër vlak as die vorige rondte is,” noem prof. Pieterse. “Hierdie stand van sake dui daarop dat dit baie goed gaan met Afrikaanse skryfkuns oor verskeie velde heen. Om ’n kortlys uit soveel uitstaande titels saam te stel, was ’n groot uitdaging vir die beoordelaars.”
Die wenner van die 2024 Helgaard Steyn-prys vir skryfkuns word op 24 September 2024 bekendgemaak.
Die ses titels op die kortlys, in alfabetiese volgorde volgens die skrywers se vanne, is:
S.P. Benjamin se roman, Dinge van ’n hond (Penquin Random House, 2021)
Antjie Krog se digbundel, Plunder (Human & Rousseau, 2022)
S.J. Naudé se kortverhaalbundel, Dol heuning (Umuzi, 2021) en roman, Van vaders en vlugtelinge (Human & Rousseau, 2023)
Etienne van Heerden se roman, Gebeente (Tafelberg, 2023)
Eben Venter se roman, Decima (Penguin Random House, 2023)
Vorige wenners van die skryfkuns-prys is:
1988 – Karel Schoeman vir ’n Ander Land
1992 – John Miles vir Kroniek uit die doofpot
1996 – Breyten Breytenbach vir Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde
2000 – John Kannemeyer vir Leipoldt: ’n Lewensverhaal
2004 – Dan Sleigh vir Eilande
2008 – Marlene van Niekerkvir Agaaten Hermann Giliomee vir Die Afrikaners
2012 – PG du Plessis vir Fees van die ongenooides
2016 – Willem Anker vir Buys
2020 – Lodewyk G. du Plessis vir Die dao van Daan van der Walt
Vanjaar se benoemdes en hul werk:
S.P. Benjamin se roman Dinge van ‘n hond (Penquin Random House, 2021)
Opsomming
Aan die einde van elke jaar word daar op Gatlek, Dawid Fourie se plaas, feesgevier. ’n Soort danksegging, kan jy sê. Dawid beloon sy werkers vir hul harde werk, en hulle betoon hul dankbaarheid op ’n manier waaroor daar ná die tyd nie veel uitgewei word nie. Dit was tydens die nag van die laaste groot vleisbraai dat dinge vir Dawid en Gatlek begin skeefloop het.
Jan-Vlok, Dawid se seun, sit nou verbitterd sonder ’n erfplaas. Sy pa swyg oor Gatlek terwyl hy sy dae vul met grafstene maak in sy agterplaas. Totdat sy mal oom Outa oor die verlede begin praat en niemand hom meer kan ignoreer nie.
Dan is daar Bettie Rondganger. ’n Alleenloper. ’n Vrou wat wil voorthol om van haar verlede te vergeet. Sy gee haar lyf vir Jan-Vlok, maar ook vir Klippies, sy jeugvriend wat aan die werkerskant van die plaas grootgeword het. Sy en Klippies ken immers die etiek van die vullishope waar hulle nou ’n bestaan moet maak.
Maar wat het werklik daardie aand op Gatlek gebeur?
Dinge van ’n hond is ’n roman oor vergeet, maar ook oor onthou. En die besef dat ’n mens jou nooit rêrig van jou verlede kan losmaak nie.
Oor die skrywer
S.P. Benjamin is die skrywersnaam van Benjamin Paulse, en hy is in 1965 gebore. Nadat hy aan Scottsdene Senior gematrikuleer het, het hy begin om poësie te skryf. In dié tyd het hy onder andere as verkoopsman gewerk en ook later in ’n drukkery. Hy het in 1997 gedebuteer met ’n roman, Die reuk van steenkool, waarvoor hy met die Sanlam/De Kat-debuutprys bekroon is. Sy debuutroman was ook ’n naaswenner in 1998 van die ATKV-prosaprys. Sy kortverhaalbundel, Die lewe is ’n halwe roman, is in 2000 met die Eugène Marais-prys bekroon.
Die beoordelaars sê
S. P. Benjamin is die bekroonde skrywer van die roman Die reuk van steenkool en ‘n kortverhaalbundel Die lewe is ‘n halwe roman. In die roman Dinge van ‘n hond word die tradisionele plaasroman, so diep ingebed in die Afrikaanse letterkunde, op sy kop gekeer en vanuit ‘n verrassende hoek hervertel. Daarmee bring Benjamin ’n verfrissende nuwe perspektief en dus ook vernuwing na die bekende plaasroman. Die kollig val op temas soos grond, grondbesit, skuld en waarheid. Grond wat afgevat is, wat verkoop is, wat bewerk of verwaarloos word. Ons praat nie graag oor vullis of ashope nie. Of oor dinge wat in die verlede gebeur het nie, hetsy in ons persoonlike lewe of in die land. In hierdie boek word ons met die ashope van ons Suid-Afrikaanse verlede gekonfronteer. Soos ‘n getroue hond agtervolg die verlede die karakters en bly deurentyd op hul hakke. Dinge van ‘n hond plaas die klem op ernstige gesprekke wat ons nog moet voer oor grond en oor die verlede. Met hierdie roman bevestig Benjamin sy unieke stem en sy welverdiende plek in die Afrikaanse letterkunde.
Antjie Krog se digbundel Plunder (Human & Rousseau, 2022)
Opsomming
In dié jongste bundel van Krog ontwikkel sy voormalige temas soos die landskap van die vrou, die huwelik, die aftakeling van die lyf, die vreugde van klein gesinsoomblikke, maar terselfdertyd vernuwe sy, opnuut. Krog probeer oplaas sin maak van die land, van die self, van die verlede. Soos Alfred Schaffer sê, daar is gewoonweg niemand in Afrikaans wat só skryf nie. Sy wys wat digkuns moet en kan wees.
Oor die skrywer
Antjie Krog is op 23 Oktober 1952 in Kroonstad gebore. Sy is 18 jaar oud toe haar eerste digbundel Dogter van Jefta in 1970 verskyn. In 1972 verskyn Januarie-suite en dit is in 1973 met die Eugène Marais-prys bekroon. Sy behaal ‘n BA-graad en honneursgraad in Engels (1973) aan die Universiteit van die Vrystaat. In 1976 verwerf sy ‘n MA-graad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Haar digbundel Jerusalemgangers is in 1987 met die Rapportprys bekroon en in 1990 ontvang Antjie die Hertzogprys vir poësie vir Lady Anne. In 1993 is sy aangestel by die tydskrif Die Suid-Afrikaan, en in 1995 begin sy as politieke verslaggewer by die SAUK te werk. Antjie lewer van 1996 tot 1998 verslag oor die Waarheids- en Versoeningskommissie. Sy verwoord haar ervarings oor die proses in Country of my Skull wat in 1998 gepubliseer is en wat met onder meer die Alan Paton-toekenning vir niefiksie en die Olive Schreiner-prys ontvang.
In 2003 word die bundel Met woorde soos met kerse, wat haar Afrikaanse vertalings en herbewerkings van poësie uit Suid-Afrikaanse inheemse tale, en een van die San-tale, bevat, aangewys as die wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse wedstryd. Kwela Boeke publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê ‘tsau’ en dit haal die kortlys van die M-Net-prys vir poësie vir 2005. Kleur kom nooit alleen nie is in 2001 met die eerste RAU-prys vir skeppende skryfwerk bekroon.
Sy is sedert 2004 ‘n buitengewone professor in Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Sy is nou ook ‘n emeritus professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap.
Die beoordelaars sê
Plunder, Antjie Krog se tiende digbundel, is reeds vanjaar met die Hertzogprys en UJ Prys vir Skeppende Werk bekroon, wat natuurlik sekere verwagtings by die voornemende leser skep. En daar word aan elke moontlike verwagting in hierdie bundel voldoen deur ’n meesterlike, wêreldklas-digter wat duidelik op die kruin van haar kragte is. Verskeie temas bekend uit haar vorige bundels kom weer hier aan bod, soos die binnegeveg van die liriese subjek oor die aard, ontstaan en funksie van poësie, die “plek” en “blik/staar” van “witheid” in ’n land soos Suid-Afrika, die “male gaze” (“manlike blik/staar”), kulturele appropriasie en die uitwys en herstel van historiese sosio-politieke ongeregtighede in die land, vergelyk die aangrypende “pryslied vir ’n vreeslose gewete”, met die lewe en sterwe van Aartsbiskop Desmond Mpilo Tutu as gegewe. In Mede-wete (2014) is die dood van die vader ‘n deurlopende tema; in Plunder word die gestorwe moeder weer vereer en, soos in verskeie vorige bundels, vind die leser pragtige gedigte oor die liriese subjek se kinders en kleinkinders. Daar is voorts asemrowend mooi natuurgedigte en dan veral ‘n reeks sterk liefdesgedigte gerig aan die eggenoot, soos die leser ook in vorige bundels teengekom het. Deurentyd is daar gesprekke met ander digters (wat in die “Bronne” erken word) en woordskeppings wat herinner aan afdeling 4 van Mede-wete (“vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing). Gelees vanuit die titel, “plunder” die digter onder meer haar eie en ander digters en skrywers se werk, maar die “plunder”-kwessie/-tema word voorts breër afgestem op die aftakeling van die ouerwordende liggaam deur die tyd en die vernietiging van die land en die aarde as geheel deur die mens – op politieke en ekologiese vlakke. Die grootse “o brose aarde … ’n misorde vir die nuwe verbond” vorm dan ’n perfekte sluitstuk vir die bundel; in hierdie “mis” word erkenning en skuld gegee aan die verminking van die omgewing, tesame met simboliese boetedoening vir hierdie dade in ’n verwonderde, belydende register. Plunder is tereg deur een resensent as ‘n “opera” beskryf en die leser staan verstom voor al die “bedrywe” wat in die bundel aangetref en ontsluit word.
SJ Naudé se kortverhaalbundel Dol Heuning (Umuzi, 2021) en roman Van Vaders en vlugtelinge (Human & Rousseau, 2023)
Oor die skrywer
S.J. Naudé is die skrywer van Alfabet van die voëls, wenner van die Universiteit van Johannesburg-debuutprys en die Jan Rabie Rapport-prys. Hy het in die regte aan die Universiteit van Pretoria en aan Cambridge en Columbia studeer en verwerf ’n meestersgraad in skeppende skryfkuns aan die Universiteit Stellenbosch. Alfabet van die voëls verskyn ook in Nederlands en Engels. Die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skryfbeurs vir 2014 is aan hom toegeken en sy werk is gepubliseer in Granta en tydskrifte in Amerika, Nederland en Italië. Ná jare in New York en Londen woon hy tans in die Boland.
S.J. Naudé studeer in Pretoria en Stellenbosch, en ook aan Cambridge en Columbia Universiteit. Hy werk lank as regspraktisyn in New York en Londen. Sy kortverhale en romans wen etlike pryse, o.m. die Eugène Marais-, UJ-, en kykNet-Rapportprys. Hy is ook ‘n driemalige wenner van die Hertzogprys. Sy werk is in verskeie tale vertaal, en van sy kortprosa verskyn in Granta en in joernale in die VSA, Nederland en Italië.
Opsomming: Dol Heuning
Die verhale in Dol heuning kring soos breedtegrade om ’n aardbol uit – van Suid-Afrika na Ysland, die Belgiese platteland en die Italiaanse Alpe.
In ’n boomryke Kaapstadse woonbuurt koester ’n paar hul seuntjie terwyl hul skoonmaker se kind in volle aangesig van die land se ongeregtighede moet staan.
In die yslandskap van Reykjavic sluk ’n vrou dol heuning saam met die man wat haar vir ’n ander verruil het en bring hulle ’n angswekkende aand saam met ’n gewelddadige Rus en sy metgesel deur.
Terwyl twee minnaars in New England aan die wreedheid van hul gasheer uitgelewer word toe sy menslikheid hom verlaat, ontferm ’n ma haar oor ’n straatkind op Park-stasie.
Die verhaalsiklus wat die kroon span, vertel hoe ’n jong Namibiër en sy Japannese vriendin ’n tragedie in die berge en ’n nag in ’n beklemmende chateau met ’n poel vol gloeiende palings beleef.
Ná die veelbekroonde Alfabet van die voëls, publiseer S.J. Naudé ’n tweede bundel kortverhale wat ontstel, verras, en boweal bekoor.
Die beoordelaars sê
Hoewel die meeste verhale in Dol heuning die omvang en kompleksiteit van kompakte novelles het, toon Naudé in verhale soos “Twee libretto’s” en “Daar is mans” ook sy slag met ’n heelwat korter vorm van die kortverhaal. Agter die glashelder vertel-oppervlak van elke verhaal roer daar allerlei donker skadu’s, wat uiteindelik nie ’n enkele verborge patroon onthul nie, maar eerder voortdurend verskuiwende betekenislae wat van elke lees ’n nuwe avontuur maak. Soos in Naudé se vorige werk staan die ouer-kind-verhouding weer in Dol heuning sentraal, maar nou word dit – anders as in Alfabet van die voëls en Die derde spoel – op verrassende wyse vanuit die perspektief van ’n ouerfiguur (of altans ’n volwasse karakter wat baie graag ma of pa sou wou wees) aangebied. Ofskoon die kinderkarakters in etlike gevalle as slagoffers van hulle omstandighede uitgebeeld word, vertoon hulle dikwels ook buitengewone veerkragtigheid wat die volwasse karakters in die onderskeie verhale tot voorbeeld is. En telkens speel die menslike verhoudings – só akuut en akkuraat, só droef én dringend uitgebeeld – teen die agtergrond van oorweldigende en moeilik vaspenbare landskappe af. In dié opsig is die slottriptiek “Landskappe met figure” (en die aansluiting daarvan by die treffende voorblad van die bundel) ’n sonderlinge hoogtepunt. Ek weet van min kortverhaalbundels waarin sowel uiterlike as innerlike landskappe op so ’n genuanseerde, geloofwaardige en uiteindelik ook aangrypende wyse gekarteer word.
Opsomming: Van Vaders en vlugtelinge
Daniël voer ’n trekvoëlbestaan tussen Londen en Kaapstad. Wanneer sy bejaarde pa sterf, bevat dié se testament ’n ongewone klousule: Daniël sal slegs sy deel van die boedel erf indien hy besoek aflê by sy neef Theon, op die ou familieplaas in die Vrystaat. Dié besoek lei tot ’n ander reis – hy en sy neef neem ’n siek seuntjie na Tokio, met die hoop dat ’n nuwe soort behandeling die kind sal genees.
Die beoordelaars sê
Van vaders en vlugtelinge is ’n episodiese roman met vyf duidelik afgebakende dele (elk met sy eie klinkende titel) wat chronologies op mekaar volg; mettertyd die klem op ’n enkele, sentrale karakter plaas en opvallende tematiese ooreenkomste vertoon. Hoewel dit moontlik sou wees om die eerste vier dele as afsonderlike kortverhale te lees, word hulle op verbeeldingryke en veelseggende wyse deur die korter vyfde deel – ’n tipe epiloog – tot eenheid saamgesnoer. En dit is juis in dié samehang dat die onderskeie dele aan betekenis en trefkrag wen. Deur middel van sy episodiese werkwyse slaag Naudé daarin om ’n hele falanks kleurvolle karakters, maar ook hul lewens op uiteenlopende kontinente, by die verhaal te betrek. Vanaf die Verenigde Koninkryk, na Serwië (die plek waar die wolwe paar), tot op ’n familieplaas diep in die hart van die Vrystaat. Aan die een kant belig die roman die foute van vermaledyde vaders wat hul verantwoordelikhede jeens hulle seuns probeer ontvlug; andersyds beklemtoon dit ook die dapper pogings wat sommige karakters aanwend om te midde van ’n verworde wêreld as pa’s of surrogaatpa’s ’n mate van gemeensaamheid, intimiteit, solidariteit en empatie met ander (en veral hul “seuns”) te bewerkstellig. Aangesien navolgenswaardige voorbeelde ontbreek en uitgediende opvattings steeds geld, lei hierdie pogings op verhaalvlak nie altyd tot positiewe uitkomste nie, maar vir die leser dien dit egter as aansporing om nuwe bestaansmoontlikhede te bly oorweeg. Met hierdie roman bewys Naudé dat hy ’n wêreldklasskrywer is wat geykte aannames en verwagtings uitdaag en die leser doelbewus inspireer om fyner en noulettender te lees. Van vaders en vlugtelinge is ’n roman wat jou met nuwe oë na die “bekende” laat kyk.
Etienne van Heerden se roman Gebeente (Tafelberg, 2023)
Opsomming
Met ’n onverwagte trein kom Magistraat Imker Goedeman aan op Gebeente, ’n klein dorpie op die Vergete Grootpad noord van Sutherland. Die omgewing is geruk deur ’n opspraakwekkende plaasmoord, maar ’n nog komplekser saak moet ondersoek word: die diefstal van die melkweg. Ons is hier in die buurt van onwaarskynlikhede en eindelik word die ganse regstelsel uitgedaag. Historie, mite, allegorie en magiese realisme word sjarmant verweef in dié meeleurende roman.
Oor die skrywer
Etienne Roché van Heerden is op 3 Desember 1954 in Johannesburg gebore. Hy word groot in die Oos-Kaap en Stellenbosch waar hy aan Paul Roos Gimnasium matrikuleer.
Na ’n jaar in die Suid-Afrikaanse vloot studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade B.A. (Regte), LL.B. en honneurs (cum laude) in Afrikaans en Nederlands, ’n meestersgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand en ’n Ph.D. aan Rhodes Universiteit. Hy werk onder meer as prokureur, in die reklamebedryf en daarna ook as dosent aan die Universiteit van Zoeloeland en Rhodes Universiteit Etienne debuteer in 1978 met die jeugroman Matoli, en as digter in 1981 (saam met André le Roux du Toit, Peter Snyders en Daniel Hugo) met Brekfis met vier.
Hy ontvang die Eugène Marais-prys in 1984 vir sy kortverhaalbundel, My Kubaan. In 1986 verskyn sy roman, Toorberg, wat met die Hertzog-, CNA-, AKTV-, en WA Hofmeyr-prys bekroon word. Hy word daarna ook bekend vir romans soos Die stoetmeester (1993), Die swye van Mario Salviati (2000), In stede van die liefde (2005) en 30 nagte in Amsterdam (2008). Vir laasgenoemde het Van Heerden onder meer die Hertzog-prys ontvang.
Hy is die afgelope twee dekades reeds betrokke by die doseer van letterkunde, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. Tans is hy professor verbonde aan die Universiteit van Kaapstad waar hy benewens kreatiewe skryfwerk-begeleiding ook gemoeid is met die doseer van literêre teorie, mediastudies en Suid-Afrikaanse en Nederlandse letterkunde.
Die beoordelaars sê
In Gebeente span Etienne van Heerden sy net wyd wat karakters en temas betref. Maar die skrywer hou die leisels ook stewig vas. Die leser herken die situasies, die karakters, die frustrasies, die gevoelens van vasgevang-wees, van magteloosheid en hoe moeilik dit is om verandering te bewerkstellig. Gebeente lewer ook weereens bewys van Van Heerden se behendige gebruik van magiese realisme en die eiesoortige manier waarop die skrywer taal aanwend om ironie en spot, maar ook deernis oor te dra. Soos in vorige werke, figureer die land en sy probleme weereens sterk. Die mense van die dorpie Gebeente, soos die mense van Suid-Afrika, bevind hulle in die nadraai van post-apartheid en die dorp word ‘n mikrokosmos van die groter land asook, tot ’n mate, ’n allegorie van die wel en wee van die land. Die skrywer is die waarnemer, die luidspreker en die fluisteraar. ‘n Breë spektrum stemme vra vrae en die verteller wys vir ons ‘n spieël van die samelewing. Ons kyk en sien en oordink: wat het van ons en ons land geword en wie se skuld is dit?
Eben Venter se roman Decima (Penguin Randon House, 2023)
Opsomming
In die Oos-Kaapse veld maak ’n skrywer haar in sy verbeelding staan: Vir Decima – ’n formidabele swartrenosterkoei. Haar dogter, Tandeka, is dragtig, en die handvol renosters sien uit na die kalf se koms in die lente. Maar vir Decima is daar vrees wat met elke volmaan in haar opwel. Sy kan steeds die gebeure onthou wat haar baie seisoene vantevore wees gelaat het.
Al werkend aan Decima se verhaal, is Eben. Hy vra: Hoe skryf mens oor hierdie dier as gevoelvolle wese? Deel van die storie is die verskillende karakters wat ’n impak op die lot van die renosters het: stropers, hul kliënte, beoefenaars van tradisionele medisyne, ook die bewaarders. En tussendeur is daar Eben se brose ma wat in die land agtergebly het. Soos hy sy weg vind deur die bladsye van sy manuskrip, is dit die stem van Decima wat die suiwerste in sy gedagtes klink.
Eben Venter se boek kombineer outofiksie, fabel, ’n speurverhaal en die wetenskap, en is ’n dringende pleidooi vir die bewaring van een van die wêreld se megaherbivore. Decima is ’n elegiese werk vir baie stemme waarin die skrywer die aard van verlies in sy vele gestaltes besing en besweer.
Oor die skrywer
Ebenhaezer (Eben) Venter het op ’n skaapplaas in die Oos-Kaap grootgeword. Hy matrikuleer aan Grey Kollege in Bloemfontein. Hy studeer eers op Potchefstroom en behaal later ’n BA Honneursgraad aan RAU en ’n MA-graad in Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth. Hy was junior lektor in filosofie aan RAU en werk ook as joernalis en kopieskrywer. Sy debuut-kortverhaalbundel, Witblitz, verskyn in 1986. Sy romans Foxtrot van die vleiseters, Ek stamel, ek sterwe en Begeerte het almal die WA Hofmeyr-prys ontvang vir beste Afrikaanse roman van die jaar. Sy boeke is al in Engels, Duits en Nederlands vertaal.
Die beoordelaars sê
Decima handel op ’n eerste leesvlak oor ’n swartrenosterkoei, Decima, op wie daar jag gemaak gaan word in ’n wildreservaat. Die fokus word dus dadelik op ’n hoogs relevante ekokritiese tema geplaas: die jag op en uitwissing van renosters en die hele “bedryf” rondom renosterhorings – die rol van stropers, “bemiddelaars”, handelslui, verbruikers en die vermeende medisinale waarde van die horing, die tegnieke en tye van die “jag”, of eerder “slagting”, die reuse-omvang van die bedryf en die historiese agtergronde daarvan. Die naam, “Decima”, (“tiende”) waarsku die leser reeds dat die betrokke renoster heel waarskynlik ’n verdere slagoffer gaan wees. Op volgende vlakke brei die teks uit tot ’n mengsel van outofiksie, fabel en natuurwetenskaplike verslae met ’n verskeidenheid vertel- en fokaliseringsinstansies. Decima tree byvoorbeeld dikwels as fokalisator op en die beskrywings wat haar sintuie waarneem, bevestig weer die outeur, Venter, se ongelooflike fyn waarnemingsvermoë en empatie wat reeds in vorige romans soos Foxtrot van die vleiseters en Ek stamel, ek sterwe, na vore gekom het. Parallel aan die verhaalgegewe oor Decima, doen die ek-verteller op ontroerende wyse verslag van die laaste dae en maande van sy moeder, sodat die boek ook ’n elegie word oor sterflikheid en verlies van mens en dier. Die verlies van ’n familieplaas in die Oos-Kaap – nog ’n tema wat in vorige romans van Venter aan bod gekom het – kom ook ter sprake en sny die kwessie van grondbesit in Suid-Afrika aan. ’n Verdere uitstaande kenmerk van die boek is die fyn opgeboude struktuur- en milieuplasings – van die Oos-Kaap na Mpumalanga, na Kowloon, België, ensovoorts – met die uitwissing van bedreigde spesies en die mens se brutale bydrae daartoe as saambindende draad. Decima bevat talle aangrypende passasies en die leser word ryklik beloon met ’n tweede lees van hierdie komplekse roman.