Beeldhouers aan die beurt vir 2025 se gesogte Helgaard Steyn-prys
Suid-Afrikaanse beeldhouers kom vanjaar in aanmerking vir die gesogte Helgaard Steyn-prys wat al om die vier jaar toegeken word aan uitmuntende werk in een van vier kunsdissiplines: musiekkomposisie, skilderkuns, letterkunde en beeldhou.
Inskrywings vir werk voltooi tussen 2021 en 2024 word ingewag. Dit behels losstaande beelde en konstruksies, reliëfwerk en binnenshuise of opelug-installasies in enige permanente medium, insluitend keramiek. Die werk moes te koop gewees het vir die publiek op ’n uitstalling of moet nou in ’n openbare ruimte besigtig kan word.
Die paneel is onder leiding van prof. Louisemarié Combrink van die Noordwes-Universiteit en sluit ook in dr. Janine Allen-Spies van die Universiteit van die Vrystaat en Andrew Lamprecht, ’n kurator verbonde aan die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum.
Van die land se voorste beeldhouers is al voorheen met dié prys vereer: David Brown (1989), Jackson Hlungwani (1993), Gert Swart (1997), Willem Boshoff (2001), Jan van der Merwe (2005), Andrieta Wentzel (2009), Wim Botha (2013), Angus Taylor (2017) en Mary Sibande (2021).
Die spertyd vir benoemings is 28 April 2025.
BENOEMINGSVORM
INDIVIDU/INSTANSIE WAT NOMINEER
Rig enige navrae aan info@helgaardsteynpryse.co.za
Benoemings vir 2025
Die volgende bepalings is van toepassing vir die benoeming van kandidate vir die Helgaard Steyn-prys in 2025:
- Die Helgaard Steyn-prys word toegeken aan enige Suid- Afrikaans gebore kunstenaar wat tussen 2021 en 2024 ’n beeldhouwerk gelewer het wat, volgens die beoordelaars, die mees verdienstelike werk in die betrokke dissipline is. Die werk moes op ’n openbare uitstalling te koop aangebied gewees het, in ’n openbare kunsversameling wees of nou in ’n openbare ruimte besigtig kan word.
- Die beoordelaars interpreteer die bepalings van die verdienstelikheid van die kunswerke wat vir bekroning oorweeg word dat dit, onder meer, verteenwoordigend sal wees van hoogstaande prestasies en vernuwende leierskap wat die kunstenaar oor ’n langer tydperk gelewer het.
- Die beoordelaars het die verantwoordelikheid om die oorspronklike testamentêre bepalings te versoen met ’n inklusiewe vertolking van die kategorie van beeldhoukuns wat tred hou met hedendaagse kunspraktyke. Gevolglik sluit “beeldhoukuns” in losstaande beelde en konstruksies, reliëfwerk en binnenshuise of opelug-installasies in enige permanente medium, ook keramiek.
- Kunsmuseums, galerye en hul afgevaardigdes, kurators, kunskonsultante en kunste-administrateurs word uitgenooi om kunswerke te benoem. Een PDF-dokument wat ’n motivering, ’n curriculum vitae van die betrokke kunstenaar en die besonderhede van die betrokke kunswerk (insluitend visuele dokumentasie) insluit, moet vir beoordeling deur die paneel verskaf word. Verfilmde materiaal moet verkieslik as ’n skakel deel vorm van die PDF-dokument, wat na ’n video op die web lei, maar die video kan ook gestuur word na info@helgaardsteynpryse.co.za, met die naam van die werk en kunstenaar wat duidelik aangedui is.
- Daar sal namens die Trust geen verdere korrespondensie plaasvind oor die verdienste van spesifieke pryse nie.