DIE HELGAARD STEYN-PRYS 2026

Benoemings word ingewag vir die Helgaard Steyn-prys wat vanjaar in die kategorie musiekkomposisie toegeken word.

Die Helgaard Steyn-prys word jaarliks toegeken, om die beurt elke vier jaar in die kategorieë musiekkomposisie, skilderkuns, letterkunde en beeldhoukuns.Die waarde van die prys het oor die afgelope dekades aansienlik toegeneem (tot meer as R500 000), wat die Helgaard Steyn-prys een van die grootste kunspryse in die land maak.

Vorige ontvangers van die Helgaard Steyn-prys vir musiekkomposisie is Roelof Temmingh, Peter Klatzow, Stefans Grové, Hans Huyssen, Adrian More en Christo Jankowitz.

Die sluitingsdatum vir benoemings is 31 Julie 2026 – dit moet ingedien word by info@helgaardsteynpryse.co.za

Die drie beoordelaars vir die 2026-prys is prof. Alexander Johnson van die Universiteit van die Vrystaat, prof. Chris van Rhyn van die Noordwes-Universiteit en dr. Evans Netshivhambe van die Universiteit van Suid-Afrika.

Alle inskrywings moet ‘n beskrywing van die werk, motivering vir die werk, details van publieke uitvoerings van die werk, ‘n biografie van die komponis, die bladmusiek en/of enige opnames van die werk insluit. 

Rig enige vrae en nominasies aan info@helgaardsteynpryse.co.za

Die sperdatum vir nominasies is 31 Julie 2026.

Vereistes en voorwaardes vir benoeming van kandidate:

  • Enige Suid-Afrikaans gebore komponis kan vir die Helgaard Steyn-prys in aanmerking kom. Die prys sal toegeken word aan die genomineerde kontemporêre musiekkomposisie wat die beoordelaarspaneel as die mees verdienstelike beskou. Werke wat in die vier jaar van 2022 tot 2025 gekomponeer en uitgevoer is, kan ingeskryf word. ’n Opname van die werk moet beskikbaar wees en/of ’n uitvoering daarvan moes reeds in die publiek plaasgevind het.
  • Enige individu, organisasie of instansie in die musiekdissipline kan ’n komposisie aan die beoordelaarspaneel benoem deur ’n skriftelike motivering, ’n curriculum vitae van die komponis en besonderhede oor die werk, met inbegrip van ’n partituur (indien van toepassing) en ’n opname (of skakel na ’n aanlyn opname) voor te lê.

Voorleggingskriteria:

  • Komposisies moet minstens 10 minute lank wees.
  • Die musiek kan gekomponeer wees vir enige toonsetting, met inbegrip van solo-instrument of stem (met of sonder begeleiding), ensembles, orkeste, elektroniese musiek en elektro-akoestiese musiek. Werke vir verhoogproduksies soos opera, ballet en kontemporêre dans kan ook voorgelê word.
  • Akoestiese werke moet ’n partituur insluit.
  • Elektroniese en elektro-akoestiese werke moet volledige aanwysings vir die uitvoering daarvan insluit, asook ’n partituur indien van toepassing.
  • Partiture van elektroniese musiek moet die ontwerp van die komposisie in breë trekke saam met ’n lys van opgeneemde en elektronies geskepte klanke insluit.
  • Alle voorleggings moet ’n MP3-klankopname en/of ’n MP4-videoopname insluit.

Beoordelingskriteria:

  • Partiture, waar van toepassing, moet van ’n professionele standaard wees. Die notering en ander aanwysings vir uitvoering moet duidelik en foutloos versorg wees; so ook die uitleg.
  • Aanwysings vir uitvoering, asook skemas, moet duidelik en foutloos versorg wees.
  • Ofskoon geen styl vir die werke voorgeskryf word nie, moet dit ’n volwasse en vars komposisiestem verteenwoordig.
  • Werke moet ’n gevorderde tegniek vertoon; dit sluit gevorderde kennis van die instrumente/stemme en/of elektroniese hulpmiddels wat daarvoor nodig is, asook ’n deeglike struktuurontwerp, in. Dit beteken nie dat kompositoriese hulpbronne nie opsetlik onidiomaties gebruik mag word nie.
  • Die beoordelaars vertolk die gees van die Helgaard Steyn-Trust se voorwaardes as sou dit te kenne gee dat die meriete van die wenkomposisie ’n voorbeeld van artistieke uitnemendheid en vernuwende leierskap deur die komponis oor ’n langdurige tydperk moet insluit.
  • Geen korrespondensie oor die meriete van enige bepaalde toekenning sal namens die Helgaard Steyn-Trust onderneem word nadat die beoordelaars hul aanbeveling aan die trustees gemaak het en die naam van die ontvanger van die prys aangekondig is nie.

WENNER VAN 2025 SE
HELGAARD STEYN-PRYS VIR
BEELDHOUKUNS:

ED YOUNG - Other People’s Tears Are Only Water 

Beeldhouers aan die beurt vir 2025 se gesogte Helgaard Steyn-prys

Suid-Afrikaanse beeldhouers kom vanjaar in aanmerking vir die gesogte Helgaard Steyn-prys wat al om die vier jaar toegeken word aan uitmuntende werk in een van vier kunsdissiplines: musiekkomposisie, skilderkuns, letterkunde en beeldhou.

Inskrywings vir werk voltooi tussen 2021 en 2024 word ingewag. Dit behels losstaande beelde en konstruksies, reliëfwerk en binnenshuise of opelug-installasies in enige permanente medium, insluitend keramiek. Die werk moes te koop gewees het vir die publiek op ’n uitstalling of moet nou in ’n openbare ruimte besigtig kan word.

Die paneel is onder leiding van prof. Louisemarié Combrink van die Noordwes-Universiteit en sluit ook in dr. Janine Allen-Spies van die  Universiteit van die Vrystaat en Andrew Lamprecht, ’n kurator verbonde aan die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum. 

Van die land se voorste beeldhouers is al voorheen met dié prys vereer: David Brown (1989), Jackson Hlungwani (1993), Gert Swart (1997), Willem Boshoff (2001), Jan van der Merwe (2005), Andrieta Wentzel (2009), Wim Botha (2013), Angus Taylor (2017) en Mary Sibande (2021).

Die spertyd vir benoemings is 28 April 2025.

Rig enige navrae aan info@helgaardsteynpryse.co.za

Benoemings vir 2025

Die volgende bepalings is van toepassing vir die benoeming van kandidate vir die Helgaard Steyn-prys in 2025:

  1. Die Helgaard Steyn-prys word toegeken aan enige Suid- Afrikaans gebore kunstenaar wat tussen 2021 en 2024 ’n beeldhouwerk gelewer het wat, volgens die beoordelaars, die mees verdienstelike werk in die betrokke dissipline is. Die werk moes op ’n openbare uitstalling te koop aangebied gewees het, in ’n openbare kunsversameling wees of nou in ’n openbare ruimte besigtig kan word.
  2. Die beoordelaars interpreteer die bepalings van die verdienstelikheid van die kunswerke wat vir bekroning oorweeg word dat dit, onder meer, verteenwoordigend sal wees van hoogstaande prestasies en vernuwende leierskap wat die kunstenaar oor ’n langer tydperk gelewer het.
  3. Die beoordelaars het die verantwoordelikheid om die oorspronklike testamentêre bepalings te versoen met ’n inklusiewe vertolking van die kategorie van beeldhoukuns wat tred hou met hedendaagse kunspraktyke. Gevolglik sluit “beeldhoukuns” in losstaande beelde en konstruksies, reliëfwerk en binnenshuise of opelug-installasies in enige permanente medium, ook keramiek.
  4. Kunsmuseums, galerye en hul afgevaardigdes, kurators, kunskonsultante en kunste-administrateurs word uitgenooi om kunswerke te benoem. Een PDF-dokument wat ’n motivering, ’n curriculum vitae van die betrokke kunstenaar en die besonderhede van die betrokke kunswerk (insluitend visuele dokumentasie) insluit, moet vir beoordeling deur die paneel verskaf word. Verfilmde materiaal moet verkieslik as ’n skakel deel vorm van die PDF-dokument, wat na ’n video op die web lei, maar die video kan ook gestuur word na info@helgaardsteynpryse.co.za, met die naam van die werk en kunstenaar wat duidelik aangedui is.
  5. Daar sal namens die Trust geen verdere korrespondensie plaasvind oor die verdienste van spesifieke pryse nie.