Die Kaapse kunstenaar Ed Young is aangewys as 2025 se wenner van die Helgaard Steyn-prys vir Beeldhoukuns vir sy werk Other People’s Tears Are Only Water (2024) – ’n werk wat vir die beoordelaars uitgestaan het te midde van strawwe kompetisie. Hy wen prysgeld van R675 000.
“Die werk is niks. Die werk is ’n spook. ’n Fisiese aanduiding van ’n fatalistiese wêreld – die grootste vertoning op aarde. Die prys is die afwesigheid wat dit omvat. Dit versterk die gebaar, visualiseer die skouspel en gee betekenis daaraan,” was die reaksie van ’n dankbare en oorblufte Young.
Die werk bestaan uit ’n fragment van ’n regopklavier wat die kunstenaar tydens die Covid-inperking by die geskiedkundige Kimberley-hotel in Kaapstad gekoop het. ’n Gedeelte is verwyder en die klavier is verkort tot ’n derde van sy oorspronklike grootte, terwyl die binnewerking van die instrument ook sigbaar is. In ooreenstemming met die tradisie van die gebruik van gevonde voorwerpe, het Young die oorspronklike instrument aangepas – nie net deur dit te verkort nie, maar ook deur ’n battery-aangedrewe meganisme in te sluit wat ’n hoë E speel. Hiermee skep hy wat hy beskryf as die “rectified readymade”. Marcel Duchamp was die voorloper van dié benadering, wat verskeie aspekte van kontemporêre kuns beïnvloed het.
Die beoordelaars het die werk boeiend gevind, en gesê dit slaag daarin om die nostalgie op te wek wat in die stuk opgesluit is. Die verkorte klavier, tesame met die hoë E wat aanhoudend gehoor word, skep ’n dramatiese en stemmingsvolle ervaring. Die werk is beskryf as ’n samevoeging van uitstaande vakmanskap en konseptuele verfyning, en word beskou as ’n unieke toevoeging tot Suid-Afrikaanse kuns.
Die beoordelaars was dr. Louisemarié Combrink (voorsitter) van die Noordwes-Universiteit, prof. Janine Allen-Spies van die Universiteit van die Vrystaat en mnr. Andrew Lamprecht, ’n kurator by die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum.



Nina Lieska / Repro Pictures
“Daar is ’n spookagtige element aan die werk wat beide aanwesigheid en afwesigheid suggereer. Die klavier en die klank wat dit voortbring, is aanwesig, maar daar is geen pianis nie, wat daartoe lei dat die voorwerp en sy klank ’n gevoel van eie agentskap kry – ’n nie-so-stilswyende spook wat die kyker herinner aan die land se verlede. Opgesluit in die oorspronklike klavier is die eggo’s van die artistieke ontmoetings van vervloë dae in die Kimberley-hotel, waar dit vandaan kom. Op baie subtiele maniere kan Other People’s Tears Are Only Water ook beskou word as ’n requiem vir die verlede, wat beklemtoon hoe ontliggaamde herinneringe kan voortleef in die fragmente van voorwerpe,” lui ’n verklaring van die beoordelaars.
Die Helgaard Steyn-prys is ’n hoog aangeskrewe prys wat jaarliks toegeken word en om die beurt erkenning gee aan uitnemendheid in vier dissiplines: musiekkomposisie, skilderkuns, letterkunde en beeldhoukuns. Beeldhouwerke wat tussen 2021 en 2024 geskep is, kon in aanmerking kom vir die prys, met Young wat die tiende wenner van die beeldhoukunsprys is.
Young, gebore in 1978 in Welkom in die Vrystaat, het aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer en sy Baccalaureusgraad in beeldende kuns (2001) en meestersgraad in beeldende kuns (2005), albei cum laude, aan die Michaelis-Kunsskool aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Hy het plaaslik en internasionaal uitgestal, onder meer in die VSA, Switserland, Duitsland en Spanje.
Die vorige ontvangers van die Helgaard Steyn-prys vir beeldhoukuns sluit in David Brown (1989), Jackson Hlungwani (1993), Gert Swart (1997), Willem Boshoff (2001), Jan van der Merwe (2005), Andrieta Wentzel (2009), Wim Botha (2013), Angus Taylor (2017) en Mary Sibande (2021).