Dié vooraanstaande prys is vir Afrikaanse publikasies – fiksie en niefiksie – wat in die voorafgaande vier jaar uitgegee is, met 300 drukeksemplare van die werk wat in die ope mark beskikbaar was vir verkope. Volgens die Helgaard Steyn-trustakte se bepalings moet die skrywer in Suid-Afrika gebore wees of ten minste tweederdes van hul lewe in Suid-Afrika deurgebring het.
Die Helgaard Steyn-prys vir skryfkuns word elke vier jaar uitgeloof, met die ander drie jare wat dit beurtelings vir beeldende kuns, musiekkomposisie en skilderkuns toegeken word. Karel Schoeman het die eerste prys vir skryfkuns in 1988 vir ’n Ander land gewen. Die ander wenners was John Miles, Breyten Breytenbach, JC Kannemeyer, Dan Sleigh, Hermann Giliomee en Marlene van Niekerk gesamentlik in 2008, P.G. du Plessis. Lodewyk G. du Plessis en Willem Anker.
Prof. Henning Pieterse, verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat, tree as sameroeper van 2024 se beoordelaarspaneel op. Uitgewers word versoek om publikasies wat aan die genoemde vereistes voldoen en wat hulle vir die prys wil benoem op ’n alfabetiese lys volgens skrywersvanne te plaas en voor 20 Maart 2024 per e-pos aan prof. Pieterse by pietersehj@ufs.ac.za te stuur. Prof. Pieterse sal daarna met die uitgewers in verbinding tree rakende die versending van boeke waar nodig (in gevalle waar dit nie reeds in die besit van die beoordelaars is nie).
’n Kortlys van inskrywings wat volgens die beoordelaars vir die 2024-prys in aanmerking kom, sal in die eerste week van September bekend gemaak word. Die wenner sal na verwagting by ’n spesiale geleentheid by die Momentum Beleggings Aardklop Nasionale Kunstefees, wat van 24 tot 29 September in Potchefstroom aangebied word, bekend gemaak word.
Die prys word deur die Helgaard Steyn-trust toegeken. Dit het tot stand gekom uit die boedel van dr. Jan Steyn, in lewe onder meer ’n diplomaat en direkteur van maatskappye, wat in 1983 in Bloemfontein oorlede is. Die prys is na sy pa vernoem.
Vir meer inligting oor die pryse, besoek helgaardsteynpryse.co.za of stuur ’n e-pos na info@helgaardsteynpryse.co.za.