Dié prys word sedert 1987 jaarliks aan Suid-Afrikaanse kunstenaars toegeken – om die beurt aan ’n skilder, skrywer, beeldhouer of komponis.
Dit is die tweede keer in die geskiedenis van die Helgaard Steyn-prys vir skryfkuns dat die wenwerk ’n digbundel is. Breyten Breytenbach het dit in 1996 gewen met Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde. Dit is ook slegs die tweede keer dat ’n vrou die skryfkuns-prys kry. Dit is in 2008 gesamentlik aan Marlene van Niekerk vir Agaat en aan Hermann Giliomee vir Die Afrikaners toegeken.
Afrikaanse werke – fiksie of niefiksie – wat tussen 2020 en 2023 verskyn het in ’n oplaag van minstens 300 eksemplare, het in aanmerking gekom vir die prys. Saam met Plunder op die kortlys, was die romans Decima (Eben Venter), Gebeente (Etienne van Heerden), Dinge van ’n hond (S.P. Benjamin) en Van vaders en vlugtelinge (S.J. Naudé), sowel as Naudé se kortverhaalbundel Dol heuning.
Prof. Henning Pieterse van die Universiteit van die Vrystaat, sameroeper van die paneel, skryf in die commendatio: “Een kenmerk van ’n groot skrywer – in hierdie geval ’n digter – is dat hy/sy hom/haar met en deur elke boek of bundel vernuwe en verdiep. En dit is presies wat Krog met haar jongste aanbod doen: Sy herbesoek verskeie aspekte uit haar oeuvre, maak hulle nuut en ‘praat’ met ’n steeds sterker wordende stem met die leser.”
Die ander paneellede was prof. Thys Human (Noordwes-Universiteit) en me. Valda Jansen. “Binne die konteks van uiters sterk mededinging was dit vir die beoordelaars ’n voorreg om Plunder as die wenner van die Helgaard Steyn-prys vir skryfkuns vir 2024 aan te wys,” sê Pieterse.
Plunder, wat in 2022 deur Human & Rousseau uitgegee is in die jaar toe Krog 70 geword het, is in 2023 met die Hertzogprys en die UJ-prys vir skeppende werk bekroon.
“Gelees vanuit die titel, ‘plunder’ die digter onder meer haar eie en ander digters en skrywers se werk, maar die ‘plunder’-tema word voorts breër afgestem op die aftakeling van die ouer wordende liggaam deur die tyd en die vernietiging van die land en die aarde as geheel deur die mens – op politieke en ekologiese vlakke,” lui die commendatio.
Verdere ontvangers van die skryfkuns-prys is: Karel Schoeman vir ’n Ander land (1988); John Miles vir Kroniek uit die doofpot (1992); John Kannemeyer vir Leipoldt: ’n Lewensverhaal (2000); Dan Sleigh vir Eilande (2004); P.G. du Plessis vir Fees van die ongenooides (2012); Willem Anker vir Buys (2016); en Lodewyk G. du Plessis vir Die dao van Daan van der Walt (2020).
Die prys word deur die Helgaard Steyn-trust toegeken wat tot stand gekom het uit die boedel van dr. Jan Steyn, in lewe ’n diplomaat, boer en direkteur van maatskappye, wat die trust na sy pa vernoem het.
Vir die volledige commendatio en vir meer inligting oor die Helgaard Steyn-pryse, besoek helgaardsteynpryse.co.za.
Medianavrae
Vir medianavrae kontak die Helgaard Steyn-pryse by E-mail: info@helgaardsteynawards.co.za.
Commendatio vir Plunder – Antjie Krog (Human & Rousseau, 2022)
Antjie Krog het geen bekendstelling in die Suid-Afrikaanse (en, al hoe meer, wêreld-) letterkunde nodig nie. Haar naam is sinoniem met kragtige poësie, fyn vertalings, kinderboeke en sosiaal-politieke aktivistiese prosa oor die nagevolge van kolonialisme en apartheid, en, veral, grond- en genderkwessies. Sy is die ontvanger van verskeie bekende literêre pryse, plaaslik en internasionaal.
Waarom is Plunder, Krog se 12de digbundel, vanjaar uitgesonder vir bekroning met die Helgaard Steyn-prys vir skryfwerk teen ander eweneens sterk tekste? Die ander titels op die kortlys is Decima (Eben Venter), Gebeente (Etienne van Heerden), Dinge van ’n hond (S.P. Benjamin) en Dol heuning and Van vaders en vlugtelinge (S.J. Naudé). Plunder is reeds met die Hertzogprys en UJ-prys vir skeppende werk bekroon, wat natuurlik sekere verwagtings by die voornemende leser skep.
Een kenmerk van ’n groot skrywer – in hierdie geval ’n digter – is dat hy/sy hom/haar met en deur elke boek of bundel vernuwe en verdiep. En dit is presies wat Krog met haar jongste aanbod doen: Sy herbesoek verskeie aspekte uit haar oeuvre, maak hulle nuut en “praat” met ’n steeds sterker wordende stem met die leser.
Verskeie temas bekend uit haar vorige bundels kom weer in hierdie laatwerk aan bod, soos die innerlike struweling van die liriese subjek oor die aard, ontstaan en funksie van poësie, veroudering en verganklikheid, die “plek” en “blik/staar” van “witheid” in ’n land soos Suid-Afrika, die “male gaze” (“manlike blik/staar”), kulturele appropriasie en die uitwys en herstel van historiese sosio-politieke ongeregtighede in die land. Die aangrypende “pryslied vir ’n vreeslose gewete”, met die lewe en sterwe van aartsbiskop Desmond Mpilo Tutu as gegewe, kan hier genoem word.
In Krog se vorige bundel, Mede-wete (2014), is die dood van die vader ’n deurlopende tema; in Plunder word die gestorwe moeder weer vereer en, soos in verskeie vorige bundels, vind die leser pragtige gedigte oor die liriese subjek se kleinkinders. Daar is voorts asemrowend mooi natuurgedigte en dan veral ’n reeks sterk liefdesgedigte gerig aan die eggenoot, soos die leser ook in vorige bundels teengekom het. Deurentyd is daar gesprekke met verskeie digters (asook met die self, wat in die bronne erken word) en skerpsinnige woordskeppings wat herinner aan afdeling 4 van Mede-wete (“vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing”).
Gelees vanuit die titel, “plunder” die digter onder meer haar eie en ander digters en skrywers se werk, maar die “plunder”-tema word voorts breër afgestem op die aftakeling van die ouer wordende liggaam deur die tyd en die vernietiging van die land en die aarde as geheel deur die mens – op politieke en ekologiese vlakke. Die grootse “o brose aarde … ’n misorde vir die nuwe verbond” vorm dan ’n perfekte sluitstuk vir die bundel; in hierdie “mis” word erkenning en skuld gegee aan die verminking van die omgewing, tesame met simboliese boetedoening vir hierdie dade in ’n verwonderde, belydende register. Plunder is tereg deur een resensent as ’n “opera” beskryf en die leser staan verstom voor al die “bedrywe” wat in die bundel aangetref en ontsluit word.
Binne die konteks van uiters sterk mededinging was dit vir die beoordelaars ’n voorreg om Plunder as die wenner van die Helgaard Steyn-prys vir skryfkuns vir 2024 aan te wys.
* Die sameroeper van die paneel was prof. Henning Pieterse (Universiteit van die Vrystaat) en die ander paneellede was prof. Thys Human (Noordwes-Universiteit) en me. Valda Jansen.