Beeldhouers aan die beurt vir 2025 se gesogte Helgaard Steyn-prys

Suid-Afrikaanse beeldhouers kom vanjaar in aanmerking vir die gesogte Helgaard Steyn-prys wat al om die vier jaar toegeken word aan uitmuntende werk in een van vier kunsdissiplines: musiekkomposisie, skilderkuns, letterkunde en beeldhou.

Inskrywings vir werk voltooi tussen 2021 en 2024 word ingewag. Dit behels losstaande beelde en konstruksies, reliëfwerk en binnenshuise of opelug-installasies in enige permanente medium, insluitend keramiek. Die werk moes te koop gewees het vir die publiek op ’n uitstalling of moet nou in ’n openbare ruimte besigtig kan word.

Die paneel is onder leiding van dr. Louisemarié Combrink van die Noordwes-Universiteit en sluit ook in prof. Janine Allen-Spies van die Universiteit van die Vrystaat en mnr. Andrew Lamprecht, ’n kurator verbonde aan die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum.

Van die land se voorste beeldhouers is al voorheen met dié prys vereer: David Brown (1989), Jackson Hlungwani (1993), Gert Swart (1997), Willem Boshoff (2001), Jan van der Merwe (2005), Andrieta Wentzel (2009), Wim Botha (2013), Angus Taylor (2017) en Mary Sibande (2021).

Die spertyd vir benoemings is 26 Mei 2025.

Rig enige navrae aan info@helgaardsteynpryse.co.za

Benoemings vir 2025

Die volgende bepalings is van toepassing vir die benoeming van kandidate vir die Helgaard Steyn-prys in 2025:

  1. Die Helgaard Steyn-prys word toegeken aan enige Suid- Afrikaans gebore kunstenaar wat tussen 2021 en 2024 ’n beeldhouwerk gelewer het wat, volgens die beoordelaars, die mees verdienstelike werk in die betrokke dissipline is. Die werk moes op ’n openbare uitstalling te koop aangebied gewees het, in ’n openbare kunsversameling wees of nou in ’n openbare ruimte besigtig kan word.
  2. Die beoordelaars interpreteer die bepalings van die verdienstelikheid van die kunswerke wat vir bekroning oorweeg word dat dit, onder meer, verteenwoordigend sal wees van hoogstaande prestasies en vernuwende leierskap wat die kunstenaar oor ’n langer tydperk gelewer het.
  3. Die beoordelaars het die verantwoordelikheid om die oorspronklike testamentêre bepalings te versoen met ’n inklusiewe vertolking van die kategorie van beeldhoukuns wat tred hou met hedendaagse kunspraktyke. Gevolglik sluit “beeldhoukuns” in losstaande beelde en konstruksies, reliëfwerk en binnenshuise of opelug-installasies in enige permanente medium, ook keramiek.
  4. Kunsmuseums, galerye en hul afgevaardigdes, kurators, kunskonsultante en kunste-administrateurs word uitgenooi om kunswerke te benoem. Een PDF-dokument wat ’n motivering, ’n curriculum vitae van die betrokke kunstenaar en die besonderhede van die betrokke kunswerk (insluitend visuele dokumentasie) insluit, moet vir beoordeling deur die paneel verskaf word. Verfilmde materiaal moet verkieslik as ’n skakel deel vorm van die PDF-dokument, wat na ’n video op die web lei, maar die video kan ook gestuur word na info@helgaardsteynpryse.co.za, met die naam van die werk en kunstenaar wat duidelik aangedui is.
  5. Daar sal namens die Trust geen verdere korrespondensie plaasvind oor die verdienste van spesifieke pryse nie.
Vorige Wenners
Vorige Wenners
Vorige Wenners
Vorige Wenners

Die Helgaard Steyn Pryse word jaarliks, in vierjaarlikse afwisseling, toegeken aan:

Die kunsskilder wat in die dan afgelope vier jaar die beste skilderwerk geskep het en op ‘n openbare uitstalling te koop aangebied het, of so ‘n skilderstuk in opdrag van ‘n private persoon of ‘n openbare liggaam geskep het, mits dit dan op so ‘n wyse in die openbaar geplaas word dat die algemene publiek redelike toegang daartoe het.

Die skrywer van die beste werk van enige aard in die Afrikaanse taal wat in die dan afgelope vier jaar in minstens driehonderd (300) druk-eksemplare op die ope mark te koop aangebied is.

Die beeldhouer wat in die dan afgelope vier jaar die beste beeldhouwerk geskep het en op ‘n openbare uitstalling te koop aangebied het, of so ‘n beeldhouwerk in opdrag van ‘n private persoon of ‘n openbare liggaam geskep het, mits dit dan op so ‘n wyse in die openbaar geplaas word dat die algemene publiek redelike toegang daartoe het.

Die komponis wat in die dan afgelope vier jaar die beste musiekwerk gekomponeer het en minstens tien volledige eksemplare daarvan op die ope mark te koop aangebied het.

Die Geskiedenis van die Helgaard Steyn Trust

Die Helgaard Steyn Trust het tot stand gekom uit die boedel van wyle dr. Johan Heinrich (Jan) Steyn. Hy is op 20 April 1902 gebore en was die oudste van ses kinders van Barendina Wilhelmina (Dina) Richter en Hillegard Mulder (Helgaard) Steyn. 

Dr. Steyn was ‘n oud-student van die voormalige Grey-Universiteitskollege (die huidige Universiteit van die Vrystaat). Hy het ‘n doktorsgraad in Ekonomie en Staatsleer (cum laude) aan die Universiteit van Heidelberg in Duitsland verwerf. 

In 1961 het Potchefstroom Universiteitskollege (die huidige Noordwes-Universiteit) ‘n eredoktorsgraad in die Ekonomiese Wetenskappe aan hom toegeken. 

Hy het, tot sy uittrede in 1966, agtien jaar lank as LV vir Potchefstroom gedien. Hy was ‘n vrygesel en is op 15 Desember 1983 in die ouderdom van 81 jaar in Bloemfontein oorlede.